Akademie


Matriekuitslae 2015 - vreugdekrete!! 


HTS het vanjaar 'n 90.24% slaagsyfer, teenoor die provinsiale slaagsyfer van 81%. Gelukkige matrieks se vreugdekrete kon kilometers ver gehoor word....

Baie geluk aan elke matrikulant en hul ouers met u kind se uitslae. Ons is baie trots op elkeen van julle.  Baie geluk en dankie ook aan elke personeellid vir u toegewydheid, ekstra klasse en leiding aan die kinders.

Baie dankie aan ons Skepper wie se Genade en Liefde vir ons onuitspreeklik groot is.

Die minister van onderwys, me Angie Motshekga, het tydens die bekendmaking van die 2015-matriekuitslae gesê die verwerwing van ’n matrieksertifikaat is nie ’n naelloop nie, maar ’n marathon van 13 jaar. Die vaslegging van basiese vaardighede in die grondslagfase, soos lees, skryf en wiskunde, is van die belangrikste boustene wat gelê word in die uiteindelike suksesvolle verwerwing van ’n matrieksertifikaat.

Verder word vaardighede soos analitiese en kritiese denke, probleemoplossing en lewensvaardighede soos tydbestuur en studievaardighede, alles oor die volle duur van ’n leerder se skoolloopbaan bemeester; deur die aktiewe deelname aan  ouderdomsgepaste leergeleenthede.

Leerders wat nie vanjaar matriek geslaag het nie, moet weet dat dit nie die einde is nie, en dat mislukking deel van die leerproses is – aanhouer wen!  

Leerders wat nou hul matrieksertifikate en/of universiteitsvrystelling verwerf het, moet besef dat dit die begin van ’n nuwe lewensfase is. Die uitdaging is nou om werk of toegang tot naskoolse opleiding te kry om hulle verder te bekwaam vir hul beroepe. Leerders wat nie suksesvol was nie, moet ook ander opleidingsopsies oorweeg, veral waar daar vaardighede en ’n vakleerlingskap aangeleer kan word.

Tekkies, daar is groot tekorte in bedrywe waar vakleerlingsvaardighede gebruik word, en daar bestaan goeie loopbaangeleenthede vir mense wat bereid is om hulself daarin te laat oplei.

Gebruik die kans, julle het tegnies 'n voorsprong!!


Matriekuitslae 2014 rede vir vreugde, maar ook skok!!

Van die matrieks van 2014 in hulle graad 8-jaar. Wat was
julle akademiese drome toe? En die realiteit vandag?
Baie geluk aan elke Tekkie wat die wenstreep suksesvol gehaal het.

Die uitslae wat jy in jou hand hou,  verteenwoordig die energie wat jy in jou skoolloopbaan ingesit het en wat direk eweredig is aan die persentasie wat jy terugkry.

Vanjaar se matriekuitslae het gemengde reaksies uitgelok. Die skool het 'n 74,17% slaagsyfer, in vergeleke met verlede jaar se 91,4%. “Dit sal altyd ons as skool se mikpunt wees om ‘n 100% slaagsyfer te behaal," het die nuwe skoolhoof, mnr. Pieter Swanepoel, gesê en hy is teleurgesteld dat hulle nie die slaagsyfer gehaal het nie.

Aan die blinker kant van dinge, het die matrieks wat wel geslaag het, nie teleurgestel nie en baie goed presteer. Baie geluk aan HTS se dux-leerder, Michael Pretorius, wat met 6 onderskeidings geslaag het en Farhaan Bhamjee wat 4 onderskeidings op sy kerfstok het.

“Ek wil die ouers van die leerlinge gelukwens met hulle kinders se prestasies. Sonder julle motivering en aanmoediging sou hulle nie so suksesvol gewees het nie,” het Swanepoel gesê. Die druipelinge het hy aangemoedig om harder te werk en dit is nou tyd om skouer aan die wiel te sit vir die hereksamen. “Julle het ons volle ondersteuning.”

Swanepoel meen dat swak studiemetodes, ongemotiveerdheid, swak selfdissipline, die swak ekonomiese toestande in die Goudvelde en die min werksgeleenthede bygedra het tot die druipsyfer. “Nie almal het die vaardighede om wiskunde en wetenskap te slaag nie en in 'n tegniese skool is sulke vaardighede baie belangrik."

'n Ses vir HTS!!  
Michael as 'n groentjie
in graad 8!!
HTS se topkandidaat vir 2014 is Michael Pretorius. Hy het in ses van sy agt vakke onderskeidings behaal. Hy het onderskeidings in Engels Eerste Addisionele Taal (80%), Wiskunde (93%) Lewensoriëntering (83%), Elektriese Tegnologie (84%),  Fisiese Wetenskappe (93%) en RTT (96%). Sy ander twee vakke is Afrikaans Huistaal (75%) en  Ingenieursgrafika & Ontwerp (73%).

Sy geheim vir sukses is om regdeur die jaar op hoogte met die leerwerk te bly. Sy raad aan  hierdie jaar se matrieks, is dit om elke dag jou huiswerk te doen, op te let in die klas en om vroegtydig te begin leer vir die eksamen. 'n Mens wil nog jou leerwerk uitstel na môre, dan is môre reeds deel van die gisters van jou matriekjaar!

Wiskunde en fisiese wetenskappe was sy gunsteling vakke en die logika daaragter maak dit maklik verteerbaar. Maar jy moet ook jou kant bring!!

Michael het tennis, sowel as skaak vir die skool se eerste spanne gespeel en deelgeneem aan entrepreneurskompetisies. Hy is bekend met die koerantwêreld,aangesien hy het vir baie jare koerante afgelewer het. Maar hy het dit later gelos, omdat tyd 'n kosbare kommoditeit geword het.

Hy gaan vanjaar ingenieurswese aan die Universiteit van Kaapstad studeer en hy het 'n groot belangstelling in die wêreld van "megatroniese". 

Baie geluk, Michael!! Die skool is trots op jou en Tekkie Tonic sal 'n elektroniese oog op jou akademiese vordering hou.




4 A's in sy sak!

Farhaan Bhamjee is nie vir 'n oomblik spyt dat hy die tegniese skool gekies het nie. Dit vergroot sy verwysingsraamwerk en gee hom die ekstra deur vir sy toekoms.

Volgens Farhaan het die matriekeindeksamen sy eiesoortige spannings en dit was sy senutergendste eksamen wat sy hele skoolloopbaan. Dit was egter oor en oor die moeite werd. 
Farhaan het A's gekry in Afrikaans Eerste Addisionele Taal, LO, wiskundige geletterdheid en siviele tegnologie.

Sy raad aan die matrieks is om op te let in die klas, so veel as moontlik die tyd in die klas te gebruik om jou skriftelike huiswerk te doen, dan het jy genoeg tyd om aandag aan jou belangstellings te gee.

Farhaan het sowaar nog tyd gehad om aan sy besigheid, Dare 2 Dream, te spandeer, alhoewel hopeloos te min, maar hy kon ook hierdie wa deur die drif trek.  

Baie geluk, Farhaan en die skool is trots op hierdie besondere prestasie. Mag jou toekoms blink!       



Afrikaanse Spelolimpiade
31 leerders het aan die Afrikaanse Spelolimpiade vir Eerste Addisionele Taal deelgeneem.

Hierdie is nie jou alledaagse gebruikerswoorde nie en ‘n 1000 klippe-kou-woorde moes onder die knie gekry word.

17 gr. 8-leerders het deelgeneem en Dantè Howard (gr. 8B) het die voortou met 72% geneem.

14 gr. 11’s en 12’s het deelgeneem.  Isaac Akinwotu het stof in die oë van ander deelnemers met 82% geskop.  Mzwamadoda Binase (gr. 12B) was in die tweede plek met 70%.

13 leerders het deurgedring na die tweede rondte!  Baie geluk aan hierdie leeders wat korte mette met die olimpiade gemaak het.