Geskiedenis en staaltjies van oudleerders

HTS - 'n blik op die verlede

 As ons die geskiedenis in oënskou wil neem, is dit nodig om letterlik en figuurlik die bekende Goudveldse stowwe van die jaarblaaie en foto-albums af te stof. Baie het gebeur sedert 1950 en net enkele gebeurtenisse word aangestip.

Dis miskien nodig om terug te gaan tot in Februarie 1946, toe mev. Truitjie Naudé van die plaas Vlakplaas in die Odendaalsrusdistrik die eerste sooi gespit het, waar die eerste skag vir 'n goudmyn in die Vrystaat gesink moes word. Dit op sigself het nie direk iets met HTS te doen nie, maar dit was die begin van duisende tegnici en ambagsmanne wat na die Goudvelde gestroom het. Die aanvraag was groter as die aanbod en gou is die behoefte raakgesien om tegnici in die Goudvelde self op te lei. Mnr. RS Cook, bestuurder van Freddies Goudmyn op daardie stadium, was die voorsitter van die komitee wat ondersoek na so 'n moontlikheid ingestel het.

Die komitee het vertoë tot die Departement van Onderwys, Kuns en Kultuur gerig. Hoewel hulle die saak simpatiekgesind was, moes plaaslike instansies maar eie inisiatief neem. Hulle het darem onderneem om die personeel se salarisse te waarborg en vir die huur van geboue te betaal.

Mnr. FR Schmidt van die Vrystaatse Tegniese Kollege in Bloemfontein het die onbenydenswaardige posisie gehad om as eerste prinsipaal-sekretaris van die pasgestigte Tegniese Instituut op Welkom met NIKS te begin!

Daar was geen geboue of personeel nie, net ongeveer 120 weerbarstige jong manne wat onderrig moes ontvang.

Die eerste geboutjie was die ou gemeenskapsaaltjie van Welkom. Hierdie monteergeboutjie was so ondig, dat die klasse sommige dae gestaak moes word, weens die stofstorms. Die meubels was maar baie primitief en is in die werkswinkels van die myne aanmekaar getimmer. Nogtans het die studentetal in die eerste ses maande so gegroei, dat hulle na 'n groter gebou in Uitzichtkamp verskuif moes word.

ook hierdie geboue was monteergeboue, wat aanvanklik as 'n ontspanningslokaal vir die mynamptenare gebruik was. Hierdie geboue is met behulp van veselplaat-skeidingsmure in vyf klaskamers verdeel. Op hierdie stadium was daar drie voltydse leerkragte, saam met die prinsipaal.

Selfs in daardie jare was die studente nie baie leergierig nie en hulle het op 'n tegniese manier die aandklasse laat skipbreuk ly. Hulle het 'n geldstukkie onder die gloeilampies geplaas. Sodra die ligte aangeskakel word vir klas, brand die smeltdraadjie af en is die hele gebou in duisternis gehul.
Die gevolg was dan 'n af-aand.

Met die beplanning van die nuwe gebou het die prinsipaal gesorg dat nie 'n enkele gloeilampie binne die bereik van die studente geplaas is nie.

In Januarie 1955 is die eerste permanente gebou betrek en gedurende 1956 het die Departement van Onderwys, Kuns en Wetenskap toestemming gegee vir die oprigting van die nodige geboue vir 'n Hoër Tegniese Skool en 'n Hoër Handelskool.

HTS was dus deel van die OVS Goudveldse Tegniese Instituut. (Die Instituut het  bestaan uit die Hoër Tegniese Skool, die Hoër Handelskool - Unitas en die Tegniese Kollege.)

Die beheer van die skool het eers onder die Ministerie van Onderwys, Kuns en Wetenskap geval. Met ingrypende veranderinge is die beheer van die skool oorgedra aan die Vrystaatse Departement van Onderwys.

Die Tegniese Skool en die Handelskool het hulle deure gedurende Januarie 1959 oopgemaak.
Mnr. PJC Bosch (op daardie stadium die visehoof van die Instituut) was verantwoordelik vir die organisering van die Tegniese Skool en hy het dan ook die grootste deel van die swaar vrag gedra om HTS te laat funksioneer.

Mnr. MHC le Page, prinsipaal van die Instituut gedurende daardie tydstip, het hom as volg oor die Tegniese Skool uitgelaat: "Few principals have the honour of being involved with the birth of a school and I am justly proud that the one technical high school with whose beginnings I was concerned, has reach over the years, such high standards of academic attainment and sportsmanship. However, the prestige in these fields is not to be all and end-all of education. It is rather the effort behind the success that is the measure of a boy's character and personality and which will ultimately forge for him a place in this busy world."

'n Paar eerste-datums en gebeure:

 1.         Die skool begin op 22 Januarie 1959 met 120 seuns en 9 onderwysers. Aan die hoof van                             die Kollege was mnr. MCH le Page en HTS was onder die bevel van mnr. PJC Bosch.    

2.         Die skool het sy eerste matriekklas in 1961 gehad en in dieselfde jaar het dr. Danie Craven die skool se eerste rugbyveld geopen.    

3.         Huis Gratia (die koshuis) is op 14 Augustus 1964 amptelik geopen. Die eerste koshuisouers was mnr. en mev. SET van Heerden. Mnr. Van Heerden was ook die eerste viseprinsipaal.

4.         In 1965 wen die 0/19A-span vir die eerste keer die Noordwes-Skole-liga in rugby.

5.         In 1965 speel Jakkals Venter en Danie van den Bergh vir die OVS-skole tydens die Craven-week.

6.         Die skool lewer in 1956 sy eerste tennisspeler in die Noordwes se skolespan op, nl. C van Niekerk.

7.         In 1966 sterf mnr. PJH Bosch in die tuig en word hy opgevolg deur mnr. AJ du Plessis.

8.         Mnr. C vd H de Plessis volg sy enigste broer op as visehoof.

9.         In 1966 word Felix Oosthuizen (oudleerling) die skool se eerste Springbok toe hy as lid van die SA-boksspan sy land in Engeland verteenwoordig.

10.       Met die Nuffield-krieketweek van 1966 is Don Fernandez die skool se eerste verteenwoordiger.

11.       Die eerste tennisspan wen vir die eerste keer hulle liga in 1966.

12.       Gedurende 1966 verteenwoordig Herman Crause die Vrystaat in gimnastiek en Johannes van der Walt is id van die Vrystaatse Spiesgooi-span wat teen die besoekende Wes-Duitsers meeding.

13.       L Brown is die eerste leerling wat in 1967 sy Noord-Vrystaat-kleure in sokker kry.

14.       Die 0/19-atletiekspan verower die beker in 1967 in hulle ouderdomsgroep tydens die Goudveldse Tussenskoolse Atletiekbyeenkoms.

15.       Met die Welkomse Engelse Kunswedstryd in 1969 neem HTS met drie eenakters deel en verwerf een goue en twee silwer diplomas.

16.       Die eerste twee oudleerlinge om grade te verwerf, was Jan Taljaard (B Sc) en Johan Blom (BA),

Die skool van toe tot nou, voorsien werkslui in 'n besondere veld, aangesien die behoefte aan tegnici en goed opgeleide vakmanne nog steeds bestaan.


Inligting van oudleerders wat die reünie bygewoon het:

Leerders van die eerste matriekklas 1961:

Louis Coetzee
Frans Roode
Edgar van Ameron

Magiel van der Walt (1964)
Fannas (Johan) van der Walt (1966)
Tok Human (1969)
Piet (PJC) Bosch ( 1970); hoofseun en seun van skoolhoof - meganiese ingenieur
Hennie Bosch (1971); elektrisiënsvoorman - neef van Piet Posch 
Emil Raal (1963); hoofseun
André Pawson (1983)
Eugene Odendaal (1963); prof. aan Natalse Universiteit - ingenieursfakulteit

Reëlingskomitee:
Nickey en Tiekie Scarcella, Piet Saayman, Pieter Swanepoel, Francois Crauwcamp, Gunter Hinrichs en Alda Welman