Vroeg een lenteoggend grote Rooikappie haar ma. "Sien Ma later!" roep sy. Haar ma probeer Rooikappie nog vir oulaas waarsku om nie met vreemdelinge te praat nie, maar haar dogter huppel reeds oor die heuweltjie.
"Tra-la-la."sing klein Rooikappie terwyl sy deur die veld stap. "Môre, boom! Hoe gaan dit met jou?" groet sy die groot ou eikebomm. "Ek gaan vandag by my ouma kuier."
Die boom kreun in die wind, maar luister na wat Rooikappie vertel: "Ouma is al amper so oud soos die berge en sy lê meestal in die bed. Ek neem vir haar kos en koeldrank sodat sy beter kan voel."
Wat Rooikappie nie sien nie, is die donker figuur wat net anderkant die eikeboom agter die bos skuil.
Ou Wolf lag skelm en sluip dan weg, reguit na Ouma se huis toe.
Daar gekom, klop hy saggies aan die deur. "Oumatjies, maak tog die deur oop, dis jou kleindogter Rooikappie hier," jok hy vir haar.
"Kom in, my kind," nooi sy hom binne, en Wolf stoot die krakerige deur oop.
Toe Rooikappie later by Ouma se huis opdaag, het sy 'n bos veldblomme so hoog soos die dak vir haar. Sy klop en stoot die deur effens oop. "Ouma! Dis ek, Rooikappie. Ek het vir Ouma kom kuier."
Maar Wolf het intussen vir Ouma in die hangkas geprop en homself vermom om soos sy te lyk. Hy lê pens en pootjies in Ouma se bed en probeer haar stem namaak: "Kom in, my kind!"
Sy druk dadelik die bos blomme onder Ouma se neus. "Ruik net hier, Ouma," sê sy opgewonde. "Leeubekkies so geel soos die son en sneeuwit madeliefies!"
Maar o wee! Nog voor hy iets kan sê, gee Wolf 'n allemintige nies: ÄAAH-TIE-SJOE!" En daar doer trek Ouma se bedkappie van sy kop af en die lakens wat sy wolwelyf moes bedek, waai deur die lug.
Rooikappie skrik haar yskoud: Ouma is mos nie so harig met kloue en 'n stert nie? Gelukkig het sy 'n fluitjie om haar nek en blaas hard daarop. "FWIEEE-EEEET!" weergalm dit deur die bos. Soos blits staan Houtkapper voor die deur.
Toe hy sien wat aangaan, swaai hy sy byl sjoep-sjap-sjop deur die lug.
Toe hy klaar is, is Wolf se hare netjies geknip, 'n middelpaadjie op sy kop en sy snor elegant gekrul.
"Nooit weer, ou maat, laat jy die dames so skrik nie!" sê Houtkapper.
'n Ware heer kan jy altyd deur 'n ring trek."
Toets jouself: Beantwoord die volgende vrae uit die teks:
1. Wie is die antagonis?
2. Is Ouma 'n ronde of 'n plat karakter?
3. Gee 'n voorbeeld van 'n hiperbool.
4. Hoe word die fluitjie as simboliek gebruik?
5. Waarvan is "die boom kreun" 'n voorbeeld?
6. Gee 'n voorbeeld van 'n vergelyking.
7. Wat sê sy woordkeuse vir jou van die Houtkapper?
8. Hoekom is Houtkapper se optrede 'n vorm van ironie?
Kitsgids tot 'n paar basiese begrippe:
1. Intrige
Alle stories het 'n intrige, in Engels bekend as die plot. Dit is hoe die gebeure in die verhaal verloop. In die geval gaan kuier Rooikappie by haar ouma, maar toe probeer Wolf haar bedrieg. Sy plan werk nie en toe daag die houtkapper op.
2. Spanning
Spanning is 'n belangrike element in 'n storie en dra tot die opwinding by. Wanneer jy lees: "Wat Rooikappie nie sien nie, is die donker figuur wat net anderkant die eikeboom agter die bos skuil," wonder jy wat ou Wolf vir Rooikappie beplan.
Daar is twee soorte spanning: ekstern, wanneer twee karakters (Wolf en Houtkapper) is, en intern. Interne spanning is gewoonlik in die karakter se gemoed, soos Rooikappie se ma wat haar dogter nog wou waarsku om versigtig te wees vir enige vreemdelinge. Nog 'n voorbeeld van interne spanning is tussen die karakter en sy omgewing. Een voorbeeld is Ouma wat in die kas geprop is, maar dit kan ook 'n jong man wees wat nie wil boer nie terwyl sy pa dit van hom verwag. Dis ook intern.
3 Karakter
'n Verhaal kan nie sonder karakters afspeel nie. Dit hoef nie mense te wees nie, dit kan selfs diere of 'n landskap wees. 'n Mens kry verskillende soorte karakters:
* Protagonis: Dit is die hoofkarakter. In die sprokie bo is dit Rooikappie en die gebeure wentel om haar. Daar is dikwels konflik betrokke en die verhaal gaan oor hoe dié konflik opgelos word. Al die ander karakters is newe-karakters en sluit in:
* Antagonis: Hierdie karakter staan gewoonlik teenoor die hoofkarakter en daar is spanning tussen hulle.
* Plat karakter: Hierdie karakters dien as agtergrond en verander nie juis in die verloop van die verhaal nie. As jy in hierdie verhaal enigsins meer oor Rooikappie se ma weet, gaan dit glad nie die verloop (of hoe jy dit verstaan) beïnvloed nie.
* Ronde/dinamiese karakter: Die teenoorgestelde van 'n plat karakter. In die loop van die verhaal verander die karakter nogal baie. Die karakter ondergaan gewoonlik 'n verdieping, wat op groei dui.
* Stereotipes: Party karakters kan jy bloot deur hul naam of funksie herken. Dink maar aan die blonde skoonheidskoningin, die sterk, stil kragman met liefde vir die buitelewe en nog vele ander.
So leer jy 'n karakter ken: Buiten die bekrywings in die teks, kleur die manier waarop die karakter praat en wat hy doen hom ook in. Wanneer Houtkapper sê: "Nooit weer, ou maat, laat jy die dames so skrik nie!" skep dit die indruk as wanneer hy sou sê: "Haai, my pêl, moenie die meisies so laat skrik nie, man!" 'n Mens leer ook baie uit wat ander karakters oor 'n karakter sê, byvoorbeeld wanneer Rooikappie sê: "Ouma is al oud en lê meestal in die bed."
4. Milieu
Milieu (ook bekend as agtergrond of omgewing) het te doen met die waar en wanneer van die verhaal. Hier is dit in die bos en by Ouma se huis. Stel ook vas in watter tyd die verhaal afspeel: kleredrag en meubels kan jou hiermee help.
Die skrywer hoef nie al die inligting op 'n voor die hand liggende manier te deel nie. So kan hy sonder om 'n jaartal te noem verwys na die dag wat alle Suid-Afrikaners vir die eerte maal kon stem.
Deur die milieu te ondersoek leer jy ook meer oor die atmosfeer. Kyk na die sinnetjie: "Tra-la-la."sing klein Rooikappie terwyl sy deur die veld stap." Rooikappie is ontspanne en die weer is waarskynlik lekker (anders sou sy dalk gehardloop het om nie nat te reën nie). Maar met die eerste verwysing na Wolf ("as die donker figuur") begin die leser reeds 'n bietjie ongemaklik voel: Wat voer Wolf in die mou? Wil hy Rooikappie kwaad aandoen?
5. Styl
Net soos skilders het skrywers elk 'n eie styl. Soos met skildertegniek kan 'n skrywer hierdie styl op verskillende maniere oordra, soos woordkeuse (formeel, informeel, dialek), die sinskontruksie en die keuse van verteller (eerstepersoon-, derdepersoon- of alsydige verteller).
Ander stylelemente sluit in die gebruik van ironie (wanneer een ding gesê word, maar die teenoorgestelde word bedoel) en simboliek (om 'n dieper betekenis as die voor die hand liggende aan iets heg).
Die gebruik van beeldspraak is ook baie belangrik. Daaronder tel vergelykings (wanneer jy twee objekte met mekaar vergelyk wat op die oog af niks met mekaar te doen het nie), metafore (wanneer een ding in die plek van 'n ander gestel word), personifikasie ('n objek wat menslike eienskappe kry). apostroof (daar word met 'n dooie objek gepraat asof dit lewe) en hiperbool (oordrywing om iets te beklemtoon).
[Bron: HG KLASKAMER GR. 10 Week 5 Taal deur Frieda le Roux]
Klik HIER vir Huisgenoot Junior
Heerlike hulp van Huisgenoot is op al die rakke in supermarkte en kafees.