Hou in gedagte dat die volgende grap in Finansies & Tegniek van 5 Julie 1996 verskyn het. Dus is hierdie grap eintlik op die toekoms gerig - 9 jaar later!
Dit is die jaar 2005. Niks werk meer soos dit moet nie. Ook nie die handrekenaars nie en die kinders word 'n nuwe nie-elektroniese manier geleer om somme op skool te doen.
Dit werk so:
Jy wil 35 beesvelle teen R23 stuk koop. Hoeveel kos dit in totaal?
👉 Skryf nou 35 links en 23 regs.
👉 Halveer die 35 en verdubbel die 23.
Die volgende ry lees dus 17,5 en 46.
👉 Ignoreer die ,5 want niemand weet meer teen hierdie tyd waarvoor breuke in ieder geval staan nie.
👉 Halveer nou weer die 17 en verdubbel 46.
👉 Ignoreer weer die ,5.
👉 Hou so aan tot die linkerkantste kolom op net 1 staan.
👉 Krap nou al die gelyke getalle in die linkerkantste kolom dood, want dit bring net onheil.
👉 Krap ook die getalle regoor die linkerkantste kolom se gelyke getalle dood.
👉 Tel dit op wat in die regterkantste kolom oorbly. Die antwoord is 805 - presies wat die 35 beesvelle teen R23 stuk kos.
Hierdie metode, is vry van enige masjiene waarvan die batterye kan pap word en die brein ooreis kan word.
Hierdie is die nuwe manier om somme te doen: Probeer dit ook met ander syfers.
O, jy wil my nie glo nie. Wag tot 2005 en kyk self.
ooOOoo
[Gelukkig lê 2005 al 20 jaar agter ons rug en werk al die sakrekenaars nog eksie-perfeksie en het ons nie hierdie lang metode nodig nie. Het jy die som gedoen op hierdie "nuwe" manier en is jou antwoord wel 805??]