Showing posts with label Hester Bothma. Show all posts
Showing posts with label Hester Bothma. Show all posts

Friday, 15 April 2022

May your soul rest in peace, tannie Hester

Justice Lebuso and Tshepo Gaoraelwe
I knew tannie Hester since 2018. She was a wonderful lady. She was the first lady that we met in the office. She was there to help you, no matter how she felt.

The smile that she alwys gave you, was a smile that was friendly and kind. She shared jokes with her fellow staff members. She courage and joy she put in her work, was something that no one has shown in the school.

She will be missed, and she will always be in our hearts.

To the family, tannie Hester was a bright and a good person, thank you for allowing us to be part of her life.

May your soul rest in peace, tannie Hester.

With love.

Tshepo Gaoraelwe and Justice Lebuso

More messages HERE!

Wednesday, 13 April 2022

Gedenkdiens vir Hester Bothma

Gedenkdiens vir Hester Bothma, wat die afgelope 19 jaar aan HTS verbonde was, word Donderdag,14 Maart om 12:00 gehou. 

Foto's en boodskappies HIER!

Saturday, 9 April 2022

Tannie Hester - waar begin 'n mens?

André van Dyk en Hester Bothma
Dit voel nog so onwerklik ...

Tannie Hester - waar begin 'n mens om tannie te beskryf? 

My pad het in 2004, as 'n graad 8-leerling, met dié van tannie Hester s'n gekruis en van daar af het sy my onder haar vlerk geneem. Ek is ook bevoorreg om 11 jaar saam met haar te kon werk. Was altyd lekker om eers 'n draai in die kantoor te maak en dan gou 'n geselsie aan te knoop ... Óf, wanneer ek by haar kantoor ingestap het, was sy besig om een of ander resep na te slaan. Van kosmaak kon jy haar niks vertel nie!

Personeeluitstappies was altyd iets om na uit te sien as jy weet tannie Hester gaan saam. En, ons plek (Ek, tannie Hessie, Christa, Annelene) was altyd heel agter in die bus. En kon sy ons met stories en grappies vermaak? Altyd vir opwinding gesorg.

Na dié nuus besef ek weereens hoe kort die lewe eintlik is, en hoe kosbaar elke oomblik saam met iemand moet wees. Net gister het ek en sy nog so paar grappe met mekaar gedeel. Nooit het ek gedink toe ek haar gister groet dat dit die laaste "Okay, bye tannie, praat weer" gaan wees nie.

Tannie se plek by HTS gaan verseker leeg wees en die goeie en mooi herinneringe sal altyd by my bly. 

Gaan tannie baie mis.

Rus in vrede, liewe tannie Hester.

André van Dyk

Foto's en boodskappies HIER!

HTS groet Hester

Dit is met groot hartseer dat ons vanaand verneem het van Hester Bothma, HTS se sekretaresse se dood. Hester was vir meer as 20 jaar die inspirasie in die hartkamer van die skool.

Sy was ‘n kollega, 'n vriendin en 'n omgee-tannie met ‘n hart van goud. Sy het altyd gehelp waar sy kon. 'n Vriendelike sekretaresse wat altyd bereid was om die ekstra myl vir elke onderwyser te loop.

Sy was baie lief vir blomme, veral krismisrose. In beide haar en die hoof se kantore was altyd blomme uit haar tuin. Sy was al die jare verantwoordelik vir die groot blommerangskikkings van die skool se prysuitdelings en ander funksies.

Groente en suurlemoene uit die oorvloed van haar tuin, het dikwels ongesiens in die personeelkamer geland met sakkies, sodat elkeen na behoefte kon vat.

Sy het nooit 'n personeeluitstappie gemis nie, sy was hart en siel deel van die skool se melodramas. 

Hester se ander groot talent was kosmaak en onthaal. Sy en Riana het baie keer die spyskaart vir die matriekafskeid en personeelfunksies uitgewerk en voorgesit. Van peuselhappies kon jy haar niks leer nie.     

Haar kantoor was dikwels 'n miernes van bedrywighede, want die een wil iets hê, die ander iets gee, nog een soek 'n vorm of 'n telefoonnommer en aan almal het sy aandag gegee. Die ekstra stoel in haar kantoor, so half weggesteek in die hoek, was baie keer die biegstoel, want Hester kon goed luister, raad gee en verstaan waardeur mense gaan. Dikwels was 'n woord van bemoediging en 'n glimlag al wat nodig was, om dié een weer op die pad te kry.      

Hester se rykdom het in haar innerlike waarde gelê. Ons kan haar in twee woorde raakvat: dierbaar en kosbaar.

Hester, jou plekkie by HTS sal leeg wees, maar in ons harte sal jy altyd voortleef. Ons gaan jou ongelooflik mis, maar ons gun jou die rus.

Ons laat die skool se vlae halfmas vir HTS se juweel hang. Ons harte gaan uit na Hester se gesin en familie. Mag julle vrede daarin vind dat sy veilig is.

Tekkie-liefde

Die SAOU ADMIN-seminaar: 5&6 Junie 2018

Hester Bothma, Riana Crauwcamp en Estia Greeff

Die provinsiale tegniese kompetisie van 2019

Prysuitdeling 2019 en melodrama 2015

Prysuitdeling 2019 en melodrama 2011
Foto's en boodskappies HIER!

Wednesday, 1 September 2021

Sekretaressedag

Dankie aan ons 4 kookwater-sekretaresses vir al die ekstra myle wat julle loop. Ons waardeer julle. Mag julle 'n blomdag beleef. 

 

Wednesday, 2 September 2020

Sekretaressedag ...

Baie dankie vir alles wat julle doen - die agter-die-gordyn-dinge is baie meer en uitputtend, as dit waarvan ons weet. Julle is sterre!!!

Monday, 1 June 2020

Lengte in Covid-19-vlak 3 is 'n belangrike bate ...

Hester Bothma, HTS se sekretaresse is lankmoedig en vriendelik, glad nie kort van geheue of draad nie ... 

Kortweg, tydens Covid-19 het sy agtergekom dat haar lengte, of gebrek daaraan, haar eintlik kortwiek, aangesien sy aan die ontvangkant van moontlike kieme kan wees as die sosiale afstand nie gehandhaaf word nie.

Dit is hier waar die vindingryke skoolhoof tot haar redding kom en op 'n Saterdagoggend voeg hy sommer 18cm by haar lengte by.

Vir die eerte keer in 20 jaar kan Hester die besoekers in die oë kyk ... Dankie, mnr. Swanepoel vir die welkome "verhoging!"

Saturday, 19 October 2019

Die geheime taal van blomme ...

Op HTS se personeel is daar iemand wat die geheime taal van blomme verstaan, asook die simboliek daarvan en dan daarop reageer.

Min mense weet dat blomme met haar praat. Daarom, met die funksie in ag genome, gaan kyk Hester altyd eers na die lokaal en voel dan aan haar vingerpunte watter blomme swier aan die geleentheid sal verleen.

Blomme is van oudsher af ingespan om boodskappe aan mense te stuur.

Vanjaar het Hester se keuse op wit lelies geval. Hierdie lelies, is in die wandel bekend as die Madonna-lelies. Hulle is gelaai met simboliek en o.a. dra hulle ook die boodskap van geluk en blydskap uit. Menigeen se beker het op 2019 se prysuitdeling oorgeloop van geluk.

En volgens mnr. Erick Litjamela (wat ook 'n oudleerder van die skool is) was dit die prysuitdeling met die meeste nat oë, op en van die verhoog af, wat hy nog bygewoon het.

Dankie, Hester, vir die ongeskrewe boodskap wat jou rangskikkings uitdra. Jy is 'n fynbesnaarde mens ...

Thursday, 17 October 2019

Preprysuitdeling-gebeure ... 'n kykie agter die skerms!

Baie selde word daar tydens 'n funksie gedink aan al die swoeg en sweet vooraf om dinge tydens 'n prestige-geleentheid op geoliede wiele te laat loop.

Hier is so 'n klein kykie agter die skerms. Raakvatters wat weet dat vele hande ligte werk maak. 

Foto's: Mevv. Lucinda van den Berg en Lindie Rode



Die span wat met leë tafels begin het, en na die tyd
hul handewerk met tevredenheid kon gade slaan.
Mev. Lucinda van den Berg, mnr. Johann van den Berg,
mev. Hester Bothma, mnr. JD van den Berg en

mev. Lindie Rode


Saturday, 11 May 2019

Talle hande agter die tegniese kompetisiegordyn ...

Mnr. Francois Crauwcamp, mevv. Riana
Crauwcamp en Hester Bothma
Die provinsiale tegniese kompetisie vind vandag by HTS Welkom, Lenakeng Thabong, LesidengThabong, HTS Louis Botha in Bloemfontein en HTS Sasolburg plaas.

Die tegniese vaardighede van leerders in verskillende werkswinkels word getoets en die wenners dring dan deur na die nasionale kompetisie. Om hierdie deelnemers se mae vol te hou, word daar bitter hard agter die skerms gewerk.

Monday, 10 December 2018

Blomboodskappe ...

Daar is min dinge wat 'n plek so opkikker soos 'n bos blomme. Hier kry van die prysuitdeling se blomme 'n tweede lewe in die voorportaal.

Dankie, Hester. 

Wednesday, 5 September 2018

Blomme vir sekretaressedag ...

'n Groot Tekkie-dankie vir julle GROOT en onbaatsugtige werk wat julle so in stilte in die kantore verrig. Julle loop die ekstra ekstra myl, sonder dat mense bewus is daarvan. Julle ontlont storms, voordat dit uitsak en deur dit alles, bly julle vriendelik en help julle almal met 'n glimlag. Ons waardeer julle! 

Tuesday, 26 June 2018

Die SAOU ADMIN-seminaar

Hester Bothma, Riana Crauwcamp en Estia Greeff het die 2 dae lange seminaar Dinsdag (5 Junie) en Woensdag (6 Junie) bygewoon. Die gaskunstenaars was onderskeidelik Phillip Moolman en Liz Meiring.

Etiket, menseverhoudings en veiligheid was van die aspekte wat op die agenda was.

Hulle het dit baie geniet en propvol energie teruggekom.