Showing posts with label Gebed. Show all posts
Showing posts with label Gebed. Show all posts

Saturday, 6 June 2026

A prayer for you

Dear Lord,
We come before you today to ask 
for your guidance and support for all our learners. 
Grant them clarity of mind, calmness, 
and confidence as they face this important exam.
Help them to recall all they have studied 
and to approach each question with wisdom and focus. 
Keep their nerves at bay and give them the strength 
to persevere through any challenges
they may encounter during the exam.
May they trust in their preparation 
and in Your presence with them. 
We pray for your blessings over their efforts 
and for a positive outcome that reflects 
their hard work and dedication.
We trust in You.
Amen.

Tuesday, 13 January 2026

Gebed van ’n onderwyser

Here, ek is self ’n leerling aan U voete. 
Ek wil vashou aan dit wat U my leer. 
Dis nie blote kennis wat oud en uitgedien word nie. 
Dis Woorde van wysheid wat vir ewig hou!
Dankie vir al U genade. 
Ons is lief vir U. 
In die naam van Jesus Christus. 
Amen.

Friday, 7 February 2025

Flashback Friday: 1963 Chris se storie


Op 21 Junie 2012 het ek 'n selfoonoproep ontvang met die volgende strekking: "Meneer, ek weet nie of meneer my nog sal onthou nie, ek was in 1965 by Meneer in matriek by die HTS Welkom. My naam is Chris en ek moet Meneer weer sien. Is Meneer 26 Junie tuis en kan ek daar aankom?"

Ons reël toe 'n tyd en gee hom my adres. So kom hy toe hier aan, vergesel van sy vrou en 'n besoeker uit Duitsland. Hy sê toe dat hy my selfoonnommer by 'n medematrikulant, met wie ek nog kontak het, gekry het.

Hier volg Chris se storie:
"Ek weet nie of Meneer dit sal kan onthou nie, maar in 1963, toe ek in st. 8 (gr. 10) was, so teen begin September, het ek vir die eerste keer 'n wiskunde toets gedruip. Meneer het so voor my bank gestaan, die rottang onder my ken gedruk, my opgelig en gesê dat ek my talente deur my agterwêreld trek. Ek het geantwoord dat ek wel geleer het, waarop meneer gesê het dat ek dan verkeerd leer en dat Meneer my sal leer hoe om te leer, wat Meneer toe gedoen het. Ook het Meneer my 'n oefenprogram gegee om fiks te word. Op daardie stadium het ek in die O/15D-span rugby gespeel. Ek het dit wat Meneer my geleer het, toegepas en ook begin oefen. Ek het wiskunde tot en met matriek met onderskeiding geslaag en het ook vir twee jaar na mekaar die myl op die atletiekbyeenkoms gewen en agsteman vir die eerstespan, wat Meneer afgerig het, gespeel. Ek het elke dag voor skool met 'n meisie wat in die Handelskool was, op die oorbrug tussen die twee skole gesels. Meneer het altyd van die "meisie op die brug" gepraat en gesê dat sy nog gaan maak dat ek laat is vir skool en dan in die moeilikheid sou wees. In my st. 9-jaar (gr. 11) het meneer my ouers na die skool toe laat kom en hulle gevra wat die ommekeer in my lewe teweeg gebring het, waarop my ma geantwoord het: "Jy, meneer Du Plessis."

Na matriek is ek Carltonville toe waar ek 'n vakleerling geword het, maar Meneer se woorde dat ek nie my talente moet deurtrek nie, het my laat verder studeer en het ek 'n meganiese ingenieur geword en is terug na die myngroep. Intussen het ek getrou met die "meisie van die brug". Ons het twee seuns en 'n dogter ryker geword en ek het vir die "meisie van die brug" gesê dat ek moet Meneer Cor opsoek. Die oudste seun het ook 'n ingenieur geword en is toe deur 'n taxi doodgery.
Dit was 'n harde slag vir ons en ons het toe 'n dogtertjie aangeneem. Veertien dae nadat ek my mediese ondersoek met vlieënde vaandels geslaag het, het ek soos 'n os neergeslaan en het 'n vyfvoudige hartomleiding ondergaan. Toe ek tuiskom, het ek vir die "meisie op die brug" gesê ek moet by meneer Cor uitkom. Toe ek tuiskom, het ek ook weer verder studeer en 'n elektrotegniese ingenieurskwalifikasie verwerf. Ek het gevorder tot resident-ingenieur vir die myngroep in Wes-Transvaal. Ek het verskeie jongmense, my eie kinders ingesluit, die lewensles wat Meneer my gegee het, gegee. Verskeie het my later kom bedank.

Ons tweede seun het sy studies om 'n CA te word, voltooi en sou net met sy klerkskap begin, toe 'n taxi aan die verkeerde kant van die pad, in 'n 60km/h-sone om 'n draai teen hom bots, sy kar goed 50m terugstoot en ook hy is aan 'n breinbesering oorlede. Ek het weereens vir die "meisie op die brug" gesê dat ek by meneer Cor moet uitkom.

Ek het intussen afgetree en ontwerp toe 'n patent vir gebruik in die myne, wat ek bemark vir baie miljoene en ek verkoop ook toe die patenteregte en belê in 'n wildsplaas net buite Potchefstroom. Hier het ek een Sondag na kerk, neergeslaan, en die "meisie op die brug" het die nooddienste se helikopter laat kom en is ek afgevoer na Pretoria. Hier word ek toe meegedeel dat die kardioloog wat my tevore geopereeer het, self in die saal langsaan lê en 'n jong dokter vra toestemming om voort te gaan. Na 'n uur en 'n half hoor ek dat hy vir die suster sê dat hy net nie die aar oopkry nie en sal moet ophou. Ek onthou dat ek gesê het: 'Here, help!' Die volgende oomblik sê die suster dat hulle nog dit moet probeer en daar werk dit toe.

Weer het ek vir die "meisie op die brug" gesê dat ek by meneer Cor moet uitkom. En hier is ek nou. Ons wil vir Meneer baie, baie dankie sê dat Meneer my talente raakgesien het en ontsluit het. Ek gee graag vir Meneer namens ons gesin hierdie woorde van dank vir wat Meneer vir my beteken het en nog steeds beteken."

Mnr. Cor: "Nodeloos om te sê dat dit vir my en Susan 'n baie emosionele oomblik was dat 'n leerling na 49 jaar die moeite doen om my te kom bedank vir wat ek vir hom beteken het, om hom op die regte pad te plaas.
Cor du Plessis

Mnr. Cor du Plessis het die volgende gebed vir hulle gestuur:

My gebed
(Vir Chris en Bettie, die "meisie op die brug")

Ons Vader in die hemel. Dit is met dankbaarheid dat ek U troon van genade nader om aan U die dank en aanbidding te bring wat U toekom.

Dankie o Heer, dat u my 49 jaar gelede gebruik het om 'n boompie by die lewende waterstroom te plant en vir 'n paar jaar te voed. Dankie dat u hierdie boompie laat groei het tot 'n pragtige boom, geanker met sy penwortel, die "meisie op die brug." U het hierdie boom laat vrugte dra en sy skaduwee was 'n rusplek vir vir sy klein boompies. Sy vrugte het vir baie ander ook van voedsel voorsien. Dankie, o Heer, dat toe die weerlig sy eerste groot tak afgeslaan het, U die wond verseël het, sodat die boom en sy penwortel nie verrot het nie. So ook het U toe die wind sy kroon geknak het, U hand oor hom gehou en weer reguit laat groei. Toe daar weereens 'n storm oor hom gekom het en die volgende groot tak afgeruk is, het U weer in U groot genade die wond genees en nie toegelaat dat die boom verrot nie. Dankie ook Heer vir die twee takkies, een geënt op die boom, wat nou die vrugte en veiligheid kan geniet. Maar o Heer, die boom was weer beproef en op sy noodkreet: "Here, help," het U ingegryp en weer lewe gegee, sodat dit vandag nog 'n sieraad is.

Ek bid U o Vader, as dit U wil is, spaar hierdie boom vir sy penwortel en twee takkies en laat sy vrugte en skaduwee nog vir baie jare 'n veilige vesting vir almal wat met hom in aanraking kom, wees. Dit vra ek in die naam van Jesus Christus ons Verlosser en Saligmaker.
Amen

[Oorgeneem uit Kerkblad Jeffereysbaai]

Dankie, Deon Fourie, wat dit met ons gedeel het. 

Thursday, 18 May 2023

Terugblik: Kerswense uit die boekstoor


Liewe Heer
Ek weet dat U elke oomblik van die dag met my is,
U liefde omvou my,
U lig lei my.
Waar ek ookal gaan en wat ek ookal doen,
U is met my.
U lei en bestuur my;
U beskerm my en waak oor my.
Dankie, Heer, vir U teenwoordigheid in my lewe -
Vandag, môre en elke dag!

Die allerbeste wense vir 'n Geseënde Kersfees
en 'n gelukkige Nuwe Jaar!

Estia en André

Monday, 31 October 2022

Monday, 1 November 2021

Gebed vir die matrieks

Here

Hou asseblief elke matriekleerder

in die palm van U hand.

Stap saam, met elke leerder

waar hulle hul laaste skooltreë gee

in 'n baie uitdagende jaar.

 Seën hulle met wysheid

en 'n helder verstand

en kalmte vir elke vraestel.

Sunday, 14 February 2021

Gebed vir ’n onderwyser

Here Jesus, toe u op aarde geleef,
gewerk en wonderwerke gedoen het,
was u ‘n onderwyser vir die mens.

Ek wil graag U voorbeeld volg,
daarom vra ek U leiding.
U het die waardevolste materiaal naamlik,
die verstand van ‘n kind in my hande geplaas.
Help my om te onthou dat dit nie soos‘n swartbord is nie.
‘n Verkeerde merk kan nie uitgewis word nie.

Ek vra vir U geduld, Here, om dié wat stadig is
en die wat weier om te leer, te help.
Ek het ook liefde en selfbeheersing nodig, Here,
wat ek kan uitdeel as ek dissipline moet toepas.

Aan die wat hulle bes doen, al is dit nie goed nie,
gee my wysheid om hulle aan te moedig
en nie te ontmoedig deur sarkasme nie.

Help my Jesus, om hulle te leer om nie net
dinge te memoriseer nie, maar om vir
hulle self te dink en dinge uit te redeneer.

Gee dat ek elkeen se talent wat aan hom of haar
uitgedeel is, sal raaksien en help ontwikkel tot U eer.

Lei U my, want ek besef dat U die
leiers van die toekoms aan my toevertrou.
Dit vra ek uit genade

AMEN.

Verwerk: Carol van Zyl (5 Jan 2007)

Sunday, 12 January 2020

Gebed van 'n onderwyser ...

Klik op die gebed sodat jy dit duidelik kan lees.

Sunday, 28 July 2019

Winde van verandering


Die winde van verandering
waai heeltyd deur die werkplek en die lewe:
Stelsels, strukture, mense, produkte, dienste
is vloeibaar, plooibaar en veranderbaar.

Vader van lewe,
gee aan ons die moed en energie
om met teleskopiese lense op die toekoms
ons stuurwiel in die regte rigting te draai.

Dankie dat U by ons is
op al die uitdagende reise van ons lewe.
Dankie dat U ons Kompas is
deur al die verskillende strome
en in al die ongemaklike storms;
dat U dáár is om ons
in die regte windrigting te stuur
en ons keer op keer
veilig aan wal te bring.

Dankie dat U die standhoudende
Middelpunt bly.

[Dankie, mev. Marguerite Pienaar vir die pragtige gebed wat jy met ons deel.]  

Sunday, 11 November 2018

Onbekende staproete ...

Die voetslaanpad van die lewe
lei dikwels na hoë plekke wat ons uitasem laat,
steiltes wat onoorkombaar lyk
en hindernisse wat uit die weg geruim moet word.

Ander kere lei U ons na dieptes
waar die donker ons harte koud maak.

Maar langs die lewensroete
gee U ook wonderlike uitkykpunte
waar ons uitsig nuwe perspektiewe bring
en uiteindelik
bring U ons by waterstrome wat verkwik.

Waar ook al:
U stuur ons nóóit sonder versterkings,
beskerming en noodvoorraad nie.
Nee, God van goedheid,
U voorsien.

[Hierdie treffende gebed van Milanie Vosloo wat ons herinner dat God altyd die nodige op ons onbekende staproete voorsien, is Vrydag deur mev. Marguerite Pienaar tydens opening in die personeelkamer met die personeel gedeel - 'n Tekkie Tonic-dankie hiervoor.]

Friday, 28 September 2018

Ewige Vriend

Jesus, wees vandag my Vriend:
Een wat by my kom sit en luister
sonder dat ek hoef te praat;
Een wat my hart vashou
wanneer ek my hand uitsteek;
Een wat die dinge verklaar
voordat ek dit wil verstaan;
Een wat die seerkry
wat ek nie kan huil nie, afdroog,
en Een wat met my glimlag
oor 'n nuutgevonde Vriendskap.

Wees vandag my ewige Vriend.

[Hierdie treffende gebed van Milanie Vosloo is vandag deur mev. Marguerite Pienaar tydens opening in die personeelkamer met die personeel gedeel - 'n Tekkie Tonic-dankie.]

Sunday, 12 August 2018

Sakewêreld-liefde ...

Die lewe wérk
as ons liefhet
en val uitmekaar daarsonder.

Ook in die klipharde sakewêreld wérk liefde,
want liefde is 'n oorwinning oor baie dinge:
mag, gulsigheid, vrees, jaloesie, haat, selfsug ...

Help my daarom om wérklik lief te hê:
my kollegas, dié vir wie ek werk, my ondergeskiktes,
hulle wat teen my werk, my "aartsvyande,"
hulle van wie ek verskil
en ook hulle wat my benadeel.

Laat ek 'n lewe leef wat getuig van u liefde.
Maak my daarom, Here,
ook in die wêreld van wérk.

[Hierdie gebed deel mev. Marguerite Pienaar graag met die Tekkie Tonic-lesers.]

Friday, 3 August 2018

Cholesterol-organisasie

Ons leef soos treine in die nag
by mekaar verby!
Ons praat nie.
Ons oefen nie ons verhoudings nie.
Ons wérk net.
Gou kry ons werkplek allerhande on-dinge:
onbegrip, ongelukkigheid, ondoeltreffendheid ...
Cholesterolverstoppings wat sommer gou
organisasie-hartaanvalle veroorsaak!

Here,
leer ons weer die kuns van kommunikasie
sodat ons harte weer vir mekaar kan klop:
Gee ons selfs 'n hartomleiding sodat ons kan
leer om weer te luister,
woorde werklik te hoor
en harte te verstaan.

Maak ons werkplek weer gesond
sodat u genade ryklik deur ons are vloei
en u seën ons lewens versterk.

[Hierdie toepaslike gebed is vandag deur mev. Marguerite Pienaar tydens opening in die personeelkamer gelees - baie dankie.]

Friday, 11 May 2018

Betekenisvolle lewe...

Mev. Marguerite Pienaar het vanoggend die volgende treffende gebed aan die personeel voorgelees:

God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. (Kolessense 3:15)

Hemelse Vader, ons is op aarde
sodat ons ons unieke gawes
met mekaar kan deel.

Dankie dat ons nie een-een
ons pad hoef te loop nie,
maar dat ons daar is vir mekaar
sodat ons saam-saam méér kan wees,
gelukkig kan wees ... héél kan wees ...

Maak my onselfsugtig
sodat ek sal opoffer, gee
... omgee!

Gebruik ons gawes, talente
en unieke menswees,
sodat ons 'n seën kan wees
vir U en vir ander!

Maak my 'n nuttige mens!