Showing posts with label Huldeblyk. Show all posts
Showing posts with label Huldeblyk. Show all posts

Saturday, 21 September 2024

HTS groet Kabelo Moroka

'n Graad 12-leerder, Kabelo Moroka, is Sondag, 15 September 2024 oorlede. HTS se vlae hang halfmas vir jou! Die kunstenaar in jou het Sondag net stil geword en nooit weer sal jy 'n potlood optel om jou gevoelens op papier uit te druk nie. Jy het jou tekentalent in graad 4 ontdek en dit het jou passie geword. Sonder kunsopleiding het jy die talent gehad om emosie en gevoel in jou werk te sit. Jy het ook gesê dat as jy teken jy vryheid ervaar wat andersins nie moontlik was nie. 

Vandag het jou maats en familie jou gegroet. Te vroeg ... te gou!

Rus in vrede!

 

Klik HIER om een van Kabelo se kunswerke te sien.

Dankie, Israel Xaba, vir die foto.

Saturday, 9 April 2022

Tannie Hester - waar begin 'n mens?

André van Dyk en Hester Bothma
Dit voel nog so onwerklik ...

Tannie Hester - waar begin 'n mens om tannie te beskryf? 

My pad het in 2004, as 'n graad 8-leerling, met dié van tannie Hester s'n gekruis en van daar af het sy my onder haar vlerk geneem. Ek is ook bevoorreg om 11 jaar saam met haar te kon werk. Was altyd lekker om eers 'n draai in die kantoor te maak en dan gou 'n geselsie aan te knoop ... Óf, wanneer ek by haar kantoor ingestap het, was sy besig om een of ander resep na te slaan. Van kosmaak kon jy haar niks vertel nie!

Personeeluitstappies was altyd iets om na uit te sien as jy weet tannie Hester gaan saam. En, ons plek (Ek, tannie Hessie, Christa, Annelene) was altyd heel agter in die bus. En kon sy ons met stories en grappies vermaak? Altyd vir opwinding gesorg.

Na dié nuus besef ek weereens hoe kort die lewe eintlik is, en hoe kosbaar elke oomblik saam met iemand moet wees. Net gister het ek en sy nog so paar grappe met mekaar gedeel. Nooit het ek gedink toe ek haar gister groet dat dit die laaste "Okay, bye tannie, praat weer" gaan wees nie.

Tannie se plek by HTS gaan verseker leeg wees en die goeie en mooi herinneringe sal altyd by my bly. 

Gaan tannie baie mis.

Rus in vrede, liewe tannie Hester.

André van Dyk

Foto's en boodskappies HIER!

HTS groet Hester

Dit is met groot hartseer dat ons vanaand verneem het van Hester Bothma, HTS se sekretaresse se dood. Hester was vir meer as 20 jaar die inspirasie in die hartkamer van die skool.

Sy was ‘n kollega, 'n vriendin en 'n omgee-tannie met ‘n hart van goud. Sy het altyd gehelp waar sy kon. 'n Vriendelike sekretaresse wat altyd bereid was om die ekstra myl vir elke onderwyser te loop.

Sy was baie lief vir blomme, veral krismisrose. In beide haar en die hoof se kantore was altyd blomme uit haar tuin. Sy was al die jare verantwoordelik vir die groot blommerangskikkings van die skool se prysuitdelings en ander funksies.

Groente en suurlemoene uit die oorvloed van haar tuin, het dikwels ongesiens in die personeelkamer geland met sakkies, sodat elkeen na behoefte kon vat.

Sy het nooit 'n personeeluitstappie gemis nie, sy was hart en siel deel van die skool se melodramas. 

Hester se ander groot talent was kosmaak en onthaal. Sy en Riana het baie keer die spyskaart vir die matriekafskeid en personeelfunksies uitgewerk en voorgesit. Van peuselhappies kon jy haar niks leer nie.     

Haar kantoor was dikwels 'n miernes van bedrywighede, want die een wil iets hê, die ander iets gee, nog een soek 'n vorm of 'n telefoonnommer en aan almal het sy aandag gegee. Die ekstra stoel in haar kantoor, so half weggesteek in die hoek, was baie keer die biegstoel, want Hester kon goed luister, raad gee en verstaan waardeur mense gaan. Dikwels was 'n woord van bemoediging en 'n glimlag al wat nodig was, om dié een weer op die pad te kry.      

Hester se rykdom het in haar innerlike waarde gelê. Ons kan haar in twee woorde raakvat: dierbaar en kosbaar.

Hester, jou plekkie by HTS sal leeg wees, maar in ons harte sal jy altyd voortleef. Ons gaan jou ongelooflik mis, maar ons gun jou die rus.

Ons laat die skool se vlae halfmas vir HTS se juweel hang. Ons harte gaan uit na Hester se gesin en familie. Mag julle vrede daarin vind dat sy veilig is.

Tekkie-liefde

Die SAOU ADMIN-seminaar: 5&6 Junie 2018

Hester Bothma, Riana Crauwcamp en Estia Greeff

Die provinsiale tegniese kompetisie van 2019

Prysuitdeling 2019 en melodrama 2015

Prysuitdeling 2019 en melodrama 2011
Foto's en boodskappies HIER!