Showing posts with label Leerders. Show all posts
Showing posts with label Leerders. Show all posts

Friday, 19 January 2024

Belangrike skoolstatistiek


Skool mag dalk vervelig voel maar het jy al gedink hoe ongelooflik baie jy in 12 jaar doen? 

Hier is 'n paar berekeninge wat jy interessant sal vind:
Van graad 1 tot matriek gaan jy ongeveer 2 440 dae skool toe, dit is sowat 14 640 uur. 
Jy het ongeveer 2 440 uur pouse.
Jy het 'n gemiddeld van 17 dae saalbyeenkomste en sing die skoollied ongeveer 150 keer.
Jy doen 'n halwe jaar lank huiswerk (dis as jy jou huiswerk elke dag doen.)
Jy praat ongeveer 48 keer mondeling.
Jy loop ongeveer 650 km as y klasse wissel.
Indien jy elke dag van jou hoërskoolloopbaan 'n blikkie gaskoeldrank drink, het jy teen graad 12 al 2000 liter gaskoeldrank (slegs by die skool) gedrink.
Indien jy meer van water hou en jy drink elke dag 8 glase water (soos daar van jou verwag word), het jy teen die einde van matriek 11 500 liter water gedrink.
Jy hoor die skoolklok meer as 21 960 keer lui.
As jy elke dag van jou lewe iets by die snoepie koop, het jy teen matriek die snoepie met 'n bietjie meer as R32 000 ryker gemaak.

Twaalf jaar klink lank, maar vra maar vir enige matriek, dit vlieg behoorlik. Geniet elke dag en sing jou skoollied uit volle bors al is dit die 150ste keer. Moenie skool bank nie, want eendag gaan jy terugverlang.

Viva skool! Maak die beste daarvan.  

[Dankie vir die leerder wat hierdie interessante statistiek met ons deel. Elkeen van julle se feite gaan verskil. Met al die ekstra klasse en vakansieklasse en -kampe wat daar deesdae is, gaan julle baie meer as net 14 640 uur skool. Doen 'n bietjie somme en stuur gerus jou statistiek vir Tekkie Tonic.] 

Monday, 15 January 2024

Aan die 2024-Tekkies en 2024-ouers

2024 lê oop voor elkeen ... soos 'n splinternuwe boek wat wag op die jaar se hoogtepunte, laagtepunte, storms en reënboë. 

Hoe kan jy vanjaar jou skooljaar aanpak? Hoe kan jy seker wees dat jy sukses sal behaal? 

Wees altyd die beste JY wat jy kan wees, nie net vanjaar nie, maar elke jaar, nie net in akademie nie, maar op alle terreine. As jy in die wiskunde klas sit, wees die beste wiskunde leerder wat JY kan wees. As jy op die sportveld is, wees die beste sportman wat JY kan wees. Respekteer alle mense, jouself, jou skoolhoof, jou onderwysers en jou klasmaats. Mense sal jóú daarvoor respekteer. 

Wat is respek? Om almal goed te behandel, nie net diegene wat jy wil beïndruk nie.

Ouers ondersteun jou kind. Respekteer jou kind. Dit lei tot wedersydse respek. Kommunikeer gereeld met jou kind. Moedig hom aan om die beste leerder te wees. Moet asseblief nie negatief van onderwysers of die skool praat nie, veral nie voor jou kind nie. Dit beïnvloed die leerder negatief en net hy gaan daaronder ly. Indien daar iets is wat pla, maak gerus 'n afspraak by die skool. Ons kan dan saam na 'n oplossing soek. Met wedersydse respek en vertroue kan berge versit word in jou kind se akademie, sport en kultuur. Indien leerders by die huis die negatiewe op- en aanmerkings oor die onderwysers en skool hoor, kan dit die respek afbreek en negatiewe houdings lewer nie positiewe resultate nie.

Sterkte vir 2024. Mag ons saam die suksespad loop tot voordeel van die leerder ... jou kind! 

Sunday, 22 October 2023

HTS se nuwe adjunkhoof


'n Besondere voorreg het mnr. Johan Herbst te beurt geval toe hy die 12e Oktober gehoor het dat hy aangestel is as die nuwe adjunkhoof van HTS Welkom.

‘n Hartlike woord van gelukwensing aan hom en sy vrou, Karin! Johan, 'n onderwysman in hart en siel, het sy eerste onderwystreë op Tekkiebodem gegee. Sy onderwysloopbaan kan getuig dat liefde vir die onderwys, passie en harde werk vrugte afwerp. Johan is tans die jongste adjunkhoof in die Lejweleputswa-distrik.

As 'n passievolle onderwyser en adjunkhoof, is hy baie opgewonde oor die toekoms en glo dat almal saam as 'n begeesterde span sal werk om HTS na hoër hoogtes te neem. Sy boodskap aan sy medepersoneel is om ‘n sagte juk vir die kollega langs jou te wees, te luister na mekaar en mekaar te koester. 

Johan stel hoë standaarde aan homself en glo dat dit sal deursuur ook na die leerders en ouers.

Tekkie Tonic het sy vrou gepols om haar man aan die lesers bekend te stel. Karin beskryf hom soos volg: "Hy is hardwerkend, maar sy familie is altyd sy nommer 1. Hy is spontaan, het 'n goeie humorsin en het altyd tyd vir 'n grappie. Hy is 'n liefdevolle mens met 'n omgeehart en daar is altyd plek om nog iemand te help om hulle laste te dra. Regverdigheid is baie baie belangrik. Hy wil graag aanhou studeer, nie net om homself te verbeter nie, maar omdat hy sy gesin se toekoms wil verbeter. Hy het 'n liefde vir kinders en hy wil graag sien dat hulle vooruit sal gaan in die lewe. Die toekoms van elke Tekkie is vir hom belangrik. In kort is die langman my HERO en beste vriend op wie ek vreeslik trots is."

Ons ken ook vir Johan as 'n Godvresende man wat weet waar sy krag vandaan kom. Hy leef in afhanklikheid van die Here. Johan sien ‘n probleem, nie as 'n struikelblok nie, maar as ‘n geleentheid om te groei.

Tekkies bid hom seën op sy werk toe.en weet dat hy elke dag na die beste van sy vermoë sal aanpak.

[Gaan lees gerus die berig in die Vista van Donderdag, 19 Oktober 2023, bl. 4 en klik HIER om die artikel in Tekkie Tonic te lees.]

Vista berig oor nuwe adjunkhoof

Klik op die artikel om die gehalte te verbeter.  

[Hierdie berig was in die Vista van Donderdag, 19 Oktober 2023, bl. 4]