Showing posts with label Aftrede. Show all posts
Showing posts with label Aftrede. Show all posts

Thursday, 27 November 2025

Tot siens, Harmans


'n Mens raak so gewoond aan mekaar, sien mekaar elke dag en aanvaar dat jy maar daar sal wees om jou deel te doen. En dan skielik klop die ouderdom aan jou deur en is dit tyd om af te tree.

Dit is tyd vir Harmans om sy tuingereedskap weg te pak en rustig saam met sy familie te kuier. In 2016 stap hy by die skool se hekke in en dra hy sy deel by om die terrein skoon en netjies te hou. Na amper 'n dekade, is dit tyd om te groet.

Harmans, ons sal jou onthou as die vriendelike man met die groot glimlag wat altyd bereid was om te help. Mag jou toekoms vol goeie gesondheid wees, geniet jou aftrede en dink terug aan die goeie dae by die skool.

Harmans sê: "Ek gaan die personeel en my kollegas die meeste mis. 'n Mooi vakansie vir almal, lekker rus en 'n mooi Kersfees saam met julle families."

Monday, 19 December 2022

Dankie, Elisa, vir 30 jaar ...


Dora, Elisa en Rebecca
Elisa Pelatona was vir 30 jaar aktief by HTS Welkom betrokke. Sy het baie hoogtepunte en ook laagtepunte in die skool belewe. Sy het kinders sien groei, ontwikkel en hulle drome sien najaag. Sy het personeellede sien kom en gaan. Dan was daar ook die kere wat sy 'n roudiens of 'n begrafnisdiens bygewoon het.

Elisa het gedurende mnr. André du Plessis se tyd by die skool begin, sy het daarna mnre. Bruwer du Toit, Gunther Hinrichs en Pieter Swanepoel as skoolhoofde belewe. Sy het later na Huis Gratia oorgeskuif, toe sy daar benodig is. En nou het dit tyd geword om rustiger te lewe. Dit het tyd geword om haar kleinkinders te geniet, 'n groentetuin te begin en ander rond te stuur om vir haar koffie en tee te maak.   

Elisa, dankie vir al jou harde werk, dankie vir die verskil wat jy aan kinders se lewens gemaak het. Mag jy 'n geseënde aftrede geniet. Jy verdien dit.