Showing posts with label Werkgewer. Show all posts
Showing posts with label Werkgewer. Show all posts

Monday, 28 July 2025

LOL: Blou Maandag-humor ...

* Gehoor van die blommeverkoper wat 'n man op straat voorgekeer het met die voorstel om 'n bos blomme vir sy meisie te koop?
"Ek het nie 'n meisie nie," is sy reaksie.
"Maar koop dan 'n bos blomme vir jou vrou," antwoord die blommeverkoper.
"Ek het nie 'n vrou nie," is sy antwoord.
"Nou koop dan twee bosse blomme vir jou geluk."

* 'n Taxibestuurder vervoer eendag 'n jong man, die seun van 'n baie bekende ryk man. Die jong man gee hom 'n goeie fooitjie toe hy afklim.
'n Week later vervoer die taxibestuurder die jong man se pa, maar dié gee hom geen fooitjie nie. Die taxibestuurder het dadelik sy ontevredenheid laat blyk.
"Jou seun het my dan so 'n goeie fooitjie gegee," kla hy.
"Ja, maar hy het 'n ryk pa," antwoord die ryk man.

* 'n Nuweling daag vir sy eerste werkdag op.
Sy werkgewer wag hom in en verwelkom hom. Hy vra toe vir die jongeling of hy weet wat die leuse van die onderneming is.
"Ja, ek weet. Dit is Stoot."
"Wat laat jou dit dink?" vra die baas.
"Dit staan op die deur," antwoord die nuweling.

Monday, 21 July 2025

LOL: Blou Maandag-humor ...

* 'n Skoolinspekteur het besoek aan 'n skool se godsdiensklas gebring. Hy vra toe vir Jannie wie vir al die skade aan Jerigo se mure verantwoordelik was. Jannie sê hy weet nie. En nie een kind in die klas kon die vraag beantwoord nie. Ook nie die onderwyser nie.
Toe die inspekteur by die skoolhoof kom, vertel hy hom dat niemand weet wie vir die skade verantwoordelik was nie en dat dit sekerlik nie 'n aanvaarbare toestand is nie. Waarop die hoof antwoord: "Moenie so bekommerd wees nie. Kry net vir my drie kwotasies en ek sal sorg dat die mure herstel word."  

* n Man wat suksesvol om 'n senior pos by 'n klein onderneming aansoek gedoen het, hoor van sy nuwe baas dat sy salaris 'n miljoen rand per jaar sal wees.
"Hoe kan so 'n klein onderneming bekostig om my soveel te betaal?" wil hy weet.
"Dit is jou eerste probleem," antwoord die werkgewer.

* Die dosent in die optometrie wou die boodskap aan sy studente tuisbring dat jy in die dae wanneer dit minder goed gaan met die ekonomie,maar moet sorg dat jy elke moontlike sent uit die kliënt kry:
As jy byvoorbeeld 'n bril verkoop, sê jy aan die kliënt: Dit sal R2000 kos."
Dan bly jy 'n oomblik stil. Kyk of hy frons.
As hy nie frons nie, sê jy: "Vir die raam."
Dan wag jy weer. As hy geen reaksie toon nie, sê: "Die lense sal 'n bykomende R2000 wees."  
Wag weer 'n oomblik. As hy nog steeds nie 'n oog trek nie, voeg jy by: "Elk."