Showing posts with label Blomme. Show all posts
Showing posts with label Blomme. Show all posts

Monday, 28 July 2025

LOL: Blou Maandag-humor ...

* Gehoor van die blommeverkoper wat 'n man op straat voorgekeer het met die voorstel om 'n bos blomme vir sy meisie te koop?
"Ek het nie 'n meisie nie," is sy reaksie.
"Maar koop dan 'n bos blomme vir jou vrou," antwoord die blommeverkoper.
"Ek het nie 'n vrou nie," is sy antwoord.
"Nou koop dan twee bosse blomme vir jou geluk."

* 'n Taxibestuurder vervoer eendag 'n jong man, die seun van 'n baie bekende ryk man. Die jong man gee hom 'n goeie fooitjie toe hy afklim.
'n Week later vervoer die taxibestuurder die jong man se pa, maar dié gee hom geen fooitjie nie. Die taxibestuurder het dadelik sy ontevredenheid laat blyk.
"Jou seun het my dan so 'n goeie fooitjie gegee," kla hy.
"Ja, maar hy het 'n ryk pa," antwoord die ryk man.

* 'n Nuweling daag vir sy eerste werkdag op.
Sy werkgewer wag hom in en verwelkom hom. Hy vra toe vir die jongeling of hy weet wat die leuse van die onderneming is.
"Ja, ek weet. Dit is Stoot."
"Wat laat jou dit dink?" vra die baas.
"Dit staan op die deur," antwoord die nuweling.

Friday, 23 September 2022

Die roos tussen die dorings ...

 
In die skool se voortuin, so half weggesteek, is daar 'n roosboom wat 'n skugter bydrae tot die lente maak ... die enkele pienk knop gaan binnekort die enigste roos tussen die spreekwoordelike dorings wees. Selfs die grasperk is nog in hul wintergewaad en die plante sukkel om aan die wisselvallige buie van die weer gewoond te raak. Geniet intussen die een roos wat 'n verskil aan die tuin maak.

Saturday, 19 October 2019

Die geheime taal van blomme ...

Op HTS se personeel is daar iemand wat die geheime taal van blomme verstaan, asook die simboliek daarvan en dan daarop reageer.

Min mense weet dat blomme met haar praat. Daarom, met die funksie in ag genome, gaan kyk Hester altyd eers na die lokaal en voel dan aan haar vingerpunte watter blomme swier aan die geleentheid sal verleen.

Blomme is van oudsher af ingespan om boodskappe aan mense te stuur.

Vanjaar het Hester se keuse op wit lelies geval. Hierdie lelies, is in die wandel bekend as die Madonna-lelies. Hulle is gelaai met simboliek en o.a. dra hulle ook die boodskap van geluk en blydskap uit. Menigeen se beker het op 2019 se prysuitdeling oorgeloop van geluk.

En volgens mnr. Erick Litjamela (wat ook 'n oudleerder van die skool is) was dit die prysuitdeling met die meeste nat oë, op en van die verhoog af, wat hy nog bygewoon het.

Dankie, Hester, vir die ongeskrewe boodskap wat jou rangskikkings uitdra. Jy is 'n fynbesnaarde mens ...

Monday, 10 December 2018

Blomboodskappe ...

Daar is min dinge wat 'n plek so opkikker soos 'n bos blomme. Hier kry van die prysuitdeling se blomme 'n tweede lewe in die voorportaal.

Dankie, Hester.