2012-08-07
Jonathan Jansen
BAIE dankie vir die uitnodiging om by jul witjas-seremonie te praat. As derdejaar-dokters in opleiding staan julle aan die vooraand van diens in een van die opwindendste beroepe. Ek kom ook uit een van die hulpprofessies, onderwys, en net soos maatskaplike werkers en verpleegkundiges het ons nie beroepe gekies om ryk te word nie; maar om ’n verskil te maak in die lewe van diegene wat ons dien.
Gister het ek een van die staatshospitale in die township besoek om die hoofde van kliniese dienste te ontmoet. Hulle het klinies depressief gelyk. Hulle werk hard en ten spyte van baie probleme met personeelvoorsiening, toerusting en veiligheid streef hulle daarna om ’n uitstekende diens aan die armste mense in die land te bied. Maar hulle het opgehou om hul werk te geniet en dus is die eerste les wat ek met julle wil deel, dat julle nooit die vreugde moet verloor nie.
Een van die grootste probleme in Suid-Afrika is dat ons vergeet het hoe om te lag. Ons is heeltemal te ernstig en ons neem ons lawaaierige politici heeltemal te ernstig op. Lag maak gesond en gee perspektief. En lag neem jou ver buite die grense van jou onmiddellike probleme.Soek daagliks na die wonderlike dinge in die hospitaal wat jou inspireer: die optimisme van siek kinders, grasie van ’n ouer pasiënt en die wonderwerke van tegnologie. Daar is baie om voor dankbaar te wees. Onthou jy is een van ’n handvol jong mense wat by die universiteit met die beste kliniese opleiding in die land sal gradueer.
Die tweede les is: Moet nooit jou passie verloor nie. Die verskil tussen ’n goeie kliniek of skool of maatskappy en ’n slegte een is dat die mense daarin gedryf word deur hul passie om te dien en vasberadenheid om goed te doen. As jy as jong dokter jou passie verloor, sal jou pasiënte dit in jou houding teenoor jou werk opmerk. Passie is aansteeklik, want dit inspireer mense om hul peil te verhoog.
My derde les kom uit my gunsteling-toneel in The Lion King. Simba is mismoedig, ’n uitgewekene uit die koninkryk, en vaderloos sedert die dood van sy pa. Hongersnood bedreig die gebied wanneer die droogte voortduur. Skielik verskyn ’n droombeeld van sy pa, Mufasa, in ’n waterpoel. Die Koning van die Leeus uiter die woorde wat my elke keer dat ek dit hoor, ontroer: “Simba, onthou wie jy is.”
Die jong leeu het nodig gehad om te hoor dat hy spesiaal is, dat hy van koninklike bloed kom, en dat hy bestem is om te lei namens die volgelinge onder sy gesag. Daar sal dae kom dat jy twyfel of jy die regte beroepskeuse gemaak het. Pasiënte onder jou sorg gaan sterf. Jy gaan diepe wanhoop en frustrasie ervaar as die mediese voorrade van die staatsdepartement wéér nie daar aankom nie. Die lang ure gaan jou uitmergel en jy kan in die versoeking kom om tou op te gooi. As dit gebeur, wil ek pleit: Onthou wie jy is. Want jy is nie ’n gewone werker nie. Jy is die volmaakte vakman. Jy staan tussen lewe en dood, gesondheid en siekte, heelword en gebrokenheid.
Ons weet wat die vlak van diens in ons staatshospitale is. Die kultuur van die openbare sektor gaan dreig om jou te oorweldig, om jou genot en passie te vernietig. Maar ek glo in teenkulturele leierskap; die soort leierskap wat die oormag konfronteer en daarbo uitstyg. Moenie soos die vaal mure van jou hospitaal word nie en moet nooit swig voor die negatiwiteit en slagoffersindroom van mense wat al te lank daar is nie. Omring jouself met diegene wat optimisties is en vasberade is om ’n verskil te maak.
Want jy is nie ’n slagoffer nie; jy kan ’n verskil maak in ons openbare gesondheidstelsel met jou kliniese vaardighede, jou persoonlike passie en jou gevoel vir die mediese beroep. Voorspoed, my jong dokters, gaan verander die wêreld.
• Prof. Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, het derdejaar- mediese studente aan Kovsies toegespreek.
- Volksblad