Wednesday 13 January 2016

Matriekuitslae 2015!

HTS het vanjaar 'n 90.24% slaagsyfer, teenoor die provinsiale slaagsyfer van 81%. Gelukkige matrieks se vreugdekrete kon kilometers ver gehoor word....

Baie geluk aan elke matrikulant en hul ouers met u kind se uitslae. Ons is baie trots op elkeen van julle.  Baie geluk en dankie ook aan elke personeellid vir u toegewydheid, ekstra klasse en leiding aan die kinders.

Baie dankie aan ons Skepper wie se Genade en Liefde vir ons onuitspreeklik groot is.

Die minister van onderwys, me Angie Motshekga, het tydens die bekendmaking van die 2015-matriekuitslae gesê die verwerwing van ’n matrieksertifikaat is nie ’n naelloop nie, maar ’n marathon van 13 jaar. Die vaslegging van basiese vaardighede in die grondslagfase, soos lees, skryf en wiskunde, is van die belangrikste boustene wat gelê word in die uiteindelike suksesvolle verwerwing van ’n matrieksertifikaat.

Verder word vaardighede soos analitiese en kritiese denke, probleemoplossing en lewensvaardighede soos tydbestuur en studievaardighede, alles oor die volle duur van ’n leerder se skoolloopbaan bemeester; deur die aktiewe deelname aan  ouderdomsgepaste leergeleenthede.

Leerders wat nie vanjaar matriek geslaag het nie, moet weet dat dit nie die einde is nie, en dat mislukking deel van die leerproses is – aanhouer wen!  

Leerders wat nou hul matrieksertifikate en/of universiteitsvrystelling verwerf het, moet besef dat dit die begin van ’n nuwe lewensfase is. Die uitdaging is nou om werk of toegang tot naskoolse opleiding te kry om hulle verder te bekwaam vir hul beroepe. Leerders wat nie suksesvol was nie, moet ook ander opleidingsopsies oorweeg, veral waar daar vaardighede en ’n vakleerlingskap aangeleer kan word.

Tekkies, daar is groot tekorte in bedrywe waar vakleerlingsvaardighede gebruik word, en daar bestaan goeie loopbaangeleenthede vir mense wat bereid is om hulself daarin te laat oplei.

Gebruik die kans, julle het tegnies 'n voorsprong!!