Sunday 14 February 2021

Gebed vir ’n onderwyser

Here Jesus, toe u op aarde geleef,
gewerk en wonderwerke gedoen het,
was u ‘n onderwyser vir die mens.

Ek wil graag U voorbeeld volg,
daarom vra ek U leiding.
U het die waardevolste materiaal naamlik,
die verstand van ‘n kind in my hande geplaas.
Help my om te onthou dat dit nie soos‘n swartbord is nie.
‘n Verkeerde merk kan nie uitgewis word nie.

Ek vra vir U geduld, Here, om dié wat stadig is
en die wat weier om te leer, te help.
Ek het ook liefde en selfbeheersing nodig, Here,
wat ek kan uitdeel as ek dissipline moet toepas.

Aan die wat hulle bes doen, al is dit nie goed nie,
gee my wysheid om hulle aan te moedig
en nie te ontmoedig deur sarkasme nie.

Help my Jesus, om hulle te leer om nie net
dinge te memoriseer nie, maar om vir
hulle self te dink en dinge uit te redeneer.

Gee dat ek elkeen se talent wat aan hom of haar
uitgedeel is, sal raaksien en help ontwikkel tot U eer.

Lei U my, want ek besef dat U die
leiers van die toekoms aan my toevertrou.
Dit vra ek uit genade

AMEN.

Verwerk: Carol van Zyl (5 Jan 2007)