Monday 1 June 2015

SAGE-deelnemers is almal wenners!!!

Die afgelope naweek was die Vrystaatse SAGE (Students for the Advancement of Global Entrepreneurship) provinsiale kompetisie. Sewe spanne het sake in twee kategorieë uitgespook. Bokamosa van Harrismith is die wenners in die SEB-kategorie, terwyl Aquabionic eerste in die SRB-kategorie is. One Life van Qwa-Qwa blaas in Bokamosa se nek, terwyl Kaizen van Harrismith nie vir lank tevrede gaan wees om die tweede viool in die SRB-kategorie te speel nie. (SEB = Social Enterprise Business en SRB = Socially Responsible Business.)

Die Suid-Afrikaanse kompetisie vind 4 Julie by die Universiteit in Bloemfontein plaas. En so vier weke verderaan ding die bestes uit elke land teen mekaar mee.

Vanjaar sal die 13de Wêreldbeker van SAGE in Seoul, Suid-Korea plaasvind. Vanaf 7 - 10 Augustus gaan sake tussen 'n klomp spanne uitgesorteer word. SAGE (Students for the Advancements of Global Entrepreneurship) is die breinkind van Dr.Curt DeBerg van die Sentrum van Entrepreneurskap aan die Kaliforniese Universiteit, Chigaco. SAGE is 'n internasionale niewinsgewende organisasie wat hoërskoolleerders blootstel aan besigheidsvaardighede en sosiale entrepreneurskap op 'n etiese en sosiaal-verantwoordelike manier. Hierdie organisasie baan die weg vir die jeug om besigheidsvaardighede aan te leer, maar om in dieselfde asem hulle bydrae tot die gemeenskap te lewer en ook terug te ploeg in die gemeenskap. Die "vader" van SAGE met sy span van vyf was in 2010 in Suid-Afrika. Dr. Curt DeBerg was al by 2 vorige geleenthede in Bloemfontein.