Monday 13 September 2021

Maandag memories

Sakkie le Roux, 'n Tekkie in murg en been, was een van die beoordelaars by die Automotive-afdeling. Saterdag het hy so 'n paar kosbare staaltjies met Tekkie Tonic gedeel en het hy 'n vinnige voëlvlug oor van die aktiwiteite en insidente van die skool in daardie jare gedeel. 

Sakkie het in 1976 gematrikuleer. In sy dae het die Tegniese Kollege en die skool nog dieselfde terrein gedeel. Dit was voordat die getalle so gegroei het, dat die Kollege geskuif het na die oorkant van die Game-sentrum. Hy kan onthou dat die skoolseuns in 1976 net 380 was, van graad 8-12. Unitas was 'n handelskool en ook 'n meisieskool. Donderdae was 'n hoogtepunt op die kalender van die tegniese, sowel as die handelskool. Donderdae-aande was debataande ... en al die tegniese seuns was aspirerende debatteerders. En ook nie om dowe neute nie - na die debat het "Die Hop" gevolg. Elke seun het met 'n meisie van oorkant aan die arm deur die gange van die skool gehop. Orals is vinnige afdraaipaadjies gevind, voordat die hopaktiwiteit in alle erns hervat is.