Sunday 21 August 2022

VivA se Lees-en luister-app


Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het pas ’n splinternuwe, gratis slimfoontoepassing (of app) bekend gestel wat spesifiek geskep is vir gebruikers wat sukkel om Afrikaans te bemeester.

Die app bevat tekste wat oor die skerm rol terwyl ’n stem dit hardop voorlees. Op dié manier word die verband tussen Afrikaans se klankstruktuur en die geskrewe taal vir gebruikers vasgelê. Jong lesers wat sukkel om te lees en taalaanleerders wat nie genoegsame blootstelling aan Afrikaans kry nie, kan met hierdie app hulle beheersing van gesproke en geskrewe Afrikaans verbeter.

Die app is in Afrikaans deur Gustaf Tempelhoff van VivA ontwikkel. “Hierdie app is ’n mylpaal,” sê hy. “Dit het groot uitdagings gestel, maar dit gee ook groot bevrediging om te weet ’n mens skep iets wat vir die hele taalgemeenskap nuttig gaan wees.”

Gustaf het reeds VivA se webblad onder hande geneem sodat dit meer toeganklik is vir blinde en siggestremde gebruikers, en die app is ontwikkel met skermleserbeskrywings wat met toeganklikheidsagteware versoenbaar is. Die app het ook ’n aantal eienskappe wat dit besonder gebruikersvriendelik maak – dit slaan outomaties oor na die donker modus indien dit in die aand gebruik word, en dit kan in die agtergrond speel terwyl ander apps gebruik word.

Die tekste in die biblioteek is lekkerleesstories wat deur bekende skrywers aan VivA geskenk is, en al die stories word deur professionele stemkunstenaars voorgelees. Daar is ook ’n hele aantal Wikipediatekste vir gebruikers wat meer by feitetekste aanklank vind. In hierdie tekste is daar verklarings en vertalings van sekere woorde en uitdrukkings, wat dit veral vir taalaanleerders geskik maak. Die tekste is vir kinders en volwassenes gegroepeer en in vaardigheidsvlakke gekategoriseer sodat gebruikers die tekste kan kies waarby hulle die meeste kan baat.

Die ATKV het ruim bygedra tot die ontwikkeling van die app. Gerrie Lemmer, Uitvoerende Hoof: Kultuur van die ATKV, sê: “By die ATKV besef ons watter belangrike rol boeke en letterkunde in die ontwikkeling en vooruitgang van Afrikaans speel, want dit beïnvloed ons denke, verbreed ons wêrelde en maak ons harte oop. Met hierdie toepassing maak VivA vir ons taal vriende.”

VivA hoop om met hierdie app sy aanbod aan die Afrikaanse taalgemeenskap te versterk en uit te brei. “VivA is besonder bevoorreg om die steun van ’n organisasie soos die ATKV en van die taalgemeenskap self te hê,” sê Marlie Coetzee, VivA se besturende direkteur. “Ons werk met hart en siel vir Afrikaans, en ons glo dat hierdie app die taal op ’n lekker en gemaklike manier vir al sy sprekers meer toeganklik maak.”

iOS: https://apps.apple.com/za/app/lees-en-luister/id1635139593
Android: https://play.google.com/store/apps/details?id=com.viva_afrikaans.lela

Gebruikers laai die app af en registreer eenmalig. Bestaande VivA-gebruikers kan aanteken met hulle bestaande besonderhede. Dit is ’n lewende projek, en die inhoud word gereeld bygewerk. Gebruikers kan dus gerus elke maand inloer om te kyk watter nuwe tekste in die biblioteek verskyn.