Tuesday 22 August 2023

Potpourri: Nutsmanne wys ander stoffasie

'n Vriendin vra verlede week dat ek iets oor nors mense moet skryf. Ek het belowe om aan die idee te herkou en haar te laat weet.

Intussen het ons student se eksterne hardeskyf en haar yskas gebreek, asook ons wasmasjien en my voertuig.

Wanneer 'n mens iets laat herstel, maar dit is meer stukkend as voordat dit herstel is, laat dit jou warm onder die kraag.

Daar is al hoe meer mense wat dieselfde klagtes het. Oral word die boodskap oorgedra dat mense in die huidige ekonomiese klimaat swaarkry. Tog word daar voete gesleep.

Vra jy vir iemand om 'n kwotasie te gee, gaan weke verby sonder enige teken van belangstelling. Vra jy vir iemand om die kombuiskraan of die heining te herstel, word daar só gedraai dat jy later opgee.

Wanneer iemand uiteindelik sy weg oopsien om 'n kwotasie te gee en opdaag om die werk te doen, is tevredenheid met die eindproduk nie gewaarborg nie.

'n Dekade gelede het iemand my wasmasjien, wat nie meer water ingetap het nie, herstel. Toe hy die wasmasjien terugbesorg, het dit nie meer self die water warm gemaak nie. Nadat hy dit sover gekry het om weer die water warm te maak, kon die wasmajien nie meer toldroog (spin) nie.

Nadat daar onlangs aan my voertuig se ingewande gewerskaf is kon ek nie my voertuig in 'n rat kry nie - terwyl daar blykbaar nie naby die ratkas gewerk is nie.

Alle nutsmanne is darem nie van dieselfde stoffasie nie. Daar is diegene wat hul voete optel en werkstevredenheid waarborg.

Dankie aan die flukse nutsmanne. Mag julle ondernemings floreer.

*Noordkaap 9 Augustus 2017 bl. 4 - Karin Muller

[Dankie vir Anoniem wat die uitknipsel gestuur het. Besoek gerus Netwerk24 (Noordkaap Bulletin) se gereelde rubrieke - daar is baie stof tot nadenke in hierdie rubrieke.]