Sunday 22 October 2023

HTS se nuwe adjunkhoof


'n Besondere voorreg het mnr. Johan Herbst te beurt geval toe hy die 12e Oktober gehoor het dat hy aangestel is as die nuwe adjunkhoof van HTS Welkom.

‘n Hartlike woord van gelukwensing aan hom en sy vrou, Karin! Johan, 'n onderwysman in hart en siel, het sy eerste onderwystreë op Tekkiebodem gegee. Sy onderwysloopbaan kan getuig dat liefde vir die onderwys, passie en harde werk vrugte afwerp. Johan is tans die jongste adjunkhoof in die Lejweleputswa-distrik.

As 'n passievolle onderwyser en adjunkhoof, is hy baie opgewonde oor die toekoms en glo dat almal saam as 'n begeesterde span sal werk om HTS na hoër hoogtes te neem. Sy boodskap aan sy medepersoneel is om ‘n sagte juk vir die kollega langs jou te wees, te luister na mekaar en mekaar te koester. 

Johan stel hoë standaarde aan homself en glo dat dit sal deursuur ook na die leerders en ouers.

Tekkie Tonic het sy vrou gepols om haar man aan die lesers bekend te stel. Karin beskryf hom soos volg: "Hy is hardwerkend, maar sy familie is altyd sy nommer 1. Hy is spontaan, het 'n goeie humorsin en het altyd tyd vir 'n grappie. Hy is 'n liefdevolle mens met 'n omgeehart en daar is altyd plek om nog iemand te help om hulle laste te dra. Regverdigheid is baie baie belangrik. Hy wil graag aanhou studeer, nie net om homself te verbeter nie, maar omdat hy sy gesin se toekoms wil verbeter. Hy het 'n liefde vir kinders en hy wil graag sien dat hulle vooruit sal gaan in die lewe. Die toekoms van elke Tekkie is vir hom belangrik. In kort is die langman my HERO en beste vriend op wie ek vreeslik trots is."

Ons ken ook vir Johan as 'n Godvresende man wat weet waar sy krag vandaan kom. Hy leef in afhanklikheid van die Here. Johan sien ‘n probleem, nie as 'n struikelblok nie, maar as ‘n geleentheid om te groei.

Tekkies bid hom seën op sy werk toe.en weet dat hy elke dag na die beste van sy vermoë sal aanpak.

[Gaan lees gerus die berig in die Vista van Donderdag, 19 Oktober 2023, bl. 4 en klik HIER om die artikel in Tekkie Tonic te lees.]