Friday 7 June 2024

Flashback Friday: Sibusiso Tshabalala

['n Kort uittreksel van 'n artikel wat in die Volksblad verskyn het in 2012]

Dié Kovsie maak tans groot opslae en sal binnekort in die geselskap van Richard Branson en Stephen Hawking wees, maar watter tipe tandepasta gebruik hy? Estée de Villiers het hom ’n paar interessante vrae gevra ...

SIBUSISO TSHABALALA is ’n naam om te onthou.

Dié Vrystater is bestem vir groot dinge. Sy projek wat geletterdheid, redenaarskuns en kritiese denke onder minder bevoorregte leerlinge bevorder, het hom ’n kaartjie na Google se Young Minds-konferensie van 20 tot 22 Mei in Londen besorg.

Dié derdejaar is 'n student in B.Com.-regte aan die Universiteit van die Vrystaat (UV). Watter tipe tandepasta gebruik jy?
Sensodyne

Wat is jou gunstelingkleur en -jogurtgeur?
Blou, en natuurlike jogurt.

Wat is jou gunstelingaanhaling of -motto?
Goodwill and gratitude wherever you go.

As jy enige dier kon wees, wat sou jy wees?
Ek sou ’n hiëna wou wees. Hulle is noukeurig en gefokus.

As daar een ding was wat jy van Suid-Afrika kon verander, wat sou dit wees?
Middelmatigheid. Dit het ’n nasionale imperatief in ons land geword, dit is ingewortel in ons mense se denkwyses.

Watter sportsoort geniet jy om te speel?
Ek speel nie sport nie, maar ek beny krieketspelers.

Watter boek sou jy vir mense aanbeveel om te lees?
Paulo Coelho se The Aleph. Dit is ’n fassinerend verhaal van ons vrese, drome en ons verlede. Enige boek deur Coelho is die moeite werd.

Waarheen sal jy volgende wil reis?
Ek wil graag deur die hele Afrika toer. Die antieke hoofstad van Afrika-kennis, Timboektoe in Mali is ’n plek om te sien!

Beste mens om te volg op Twitter?
@paulocoelho

Watter tipe musiek verkies jy?
Enigiets wat goed op die ore is, werk vir my. Ek het onlangs begin luister na Indie-musiek, soos James Vincent McMorrow. Kimbra en Goyte hou my verstandig. Die Afrika-soul-jazz- kunstenaar Asa is ook goed. Andersins hou hip-hop en jazz my aan die gang.

Wat is die beste raad wat jy nog gekry het?
Wat ander mense van jou dink, het niks met jou uit te waai nie.

- Volksblad