Monday, 7 July 2025

LOL: Blou Maandag-humor ...

* Die sakeman loop eendag een van sy jonger vennote raak wat op pad uit die gebou is.
"Waarheen gaan jy?"
"Ek gaan my hare laat sny," antwoord die vernnoot.
"In werkstyd?"
"Ja, my hare groei mos in werkstyd," sê die kollega.
"Maar jou hare groei nie net in werkstyd nie," vermaan die ouer man hom.
"Ek gaan ook nie al my hare laat afsny nie."

*  'n Man se seldsame ingevoerde hond raak weg. Hy plaas 'n advertensie in die koerant waarin R15 000 aangebied word vir die persoon wat die hond vind.
Twee dae later het hy steeds geen reaksie nie. Hy bel die koerant en vra om met die advertensiebestuurder te praat. Sy sekretaresse sê hy is uit.
Die man vra toe om met die advertensiebestuurder se assistent te praat. Sy sekretaresse sê hy is ook uit. Nie een van die advertensieklerke is daar nie.
"Waar is almal? Daar is dan niemand nie!" roep die ontevrede adverteerder uit.
"Dit is waar, meneer," antwoord die sekretaresse. "Hulle is almal op straat, op soek na jou hond."

* 'n Man bel die telefoonmense om 'n fout te kom herstel, want sy landlyn werk soms, maar soms werk dit nie.
Hulle daag nie op nie. So twee maande later bel hulle, nogal op 'n Saterdag. Hulle wou by hom weet waaroor hy gekla het.
"Ek het lankal self op die dak geklim en die fout reggemaak. Daar was drade wat nie behoorlik vas was nie," sê hy.
"Nee, maar goed," antwoord die telefoonman. "Ek sal iemand stuur om te sien of jy die werk goed gedoen het."