* Drie mans stry oor die oudste beroep.
Die snydokter sê, volgens die Bybel het God vir Eva gemaak deur 'n ribbebeen van Adam te gebruik. Dit maak chirurgie die oudste beroep.
"Wag 'n bietjie," sê die ingenieur. "Die aarde is binne ses dae uit chaos geskep. Net 'n ingenieur kan dit doen."
"Ja," sê die politikus, "en wie dink julle het die chaos veroorsaak?"
* 'n Man is onlangs in die hof gewaarsku dat hy nie hoorsê-getuienis moet lewer nie.
Toe die landdros hom vra wanneer hy gebore is, weier hy om te antwoord en swyg soos die graf.
Nadat groot druk om te praat op hom geplaas is, sê die getuie: "Ek kan u mos nie antwoord nie ... ek weet net van hoorsê wanneer ek gebore is."
* 'n Kannibaal open 'n restaurant. Een van sy vriende besoek hom en kyk deur die spyskaart. Tot sy verbasing vind hy 'n groot wisseling in sommige geregte se pryse.
'n Argitek was byvoorbeeld beskikbaar vir net R150, 'n ingenieur vir R160, aandelemakelaars is byna verniet weggegee, maar politici se prys was R520 stuk.
Hy vra toe hoekom die politici so duur is.
Die restauranteienaar antwoord: "Het jy al ooit probeer om een van hulle skoon te kry?"