Friday 12 August 2016

'n Gogga byt hom in graad 8!!

ERIK van Heerden, ’n jong liggaamsbouer van die Goudveld, het vanjaar twee eersteplekke in liggaamsbou behaal by die provinsiale kompetisie wat in Sedibeng (die ou Vaaldriehoek) gehou is.

Op 30 Julie het hy aan sy tweede provinsiale kompetisie deelgeneem.

Daar het hy ’n eerste plek in die o.23-universiteite-afdeling en in die o.23-ope afdeling behaal. Aangesien hy nou 21 jaar oud is, kan hy nog vir twee jaar aan dié afdeling deelneem.

Ná sy oorwinning daar is hy gekies om deel te neem aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe.

Die kampioenskappe sal in September in Durban aangebied word. Sedert sy gr. 8-jaar oefen hy elke dag in die gimnasium. Dit is waar die gogga hom gebyt het.

Net daar het hy ’n wilsbesluit geneem om die sport te bemeester.

Dit is vir hom ’n aansporing om die resultate van harde oefening te sien. “Hoe meer jy insit, hoe meer kry jy uit,” sê Erik.

Die sport vereis baie selfdissipline en deursettingsvermoë. Erik oefen van Maandag tot Sondag. Sy dag begin 05:00 en hy oefen op ’n leë maag vir 60 minute lank, saans se oefensessie is ’n volle 90 minute lank.

Sy dieet is ontsettend belangrik. Hy moet agt keer per dag eet. Die dieet bestaan hoofsaaklik uit eierwitte, 1,2 kg gaar vleis (wild of hoender), hawermout-pap, basmati-rys en patats.

Al sy kennis rakende die sport het hy self nageslaan. Wyle Jannie Miles ’n bekende in die liggaamsboukringe het hom ook touwys gemaak en raad gegee.

Die twee titels wat hy op 30 Julie losgeslaan het, dra hy aan wyle Miles op. (Hy was die eienaar van Fitness Connexion in Welkom en het op 2 Junie tragies verongeluk.)

Sy rolmodel is Dexter Jackson (47), omdat hy ongelooflike genetika het vir liggaamsbou en altyd in ’n goeie kondisie is.

Van Heerden is in 1995 in Bloemfontein gebore. In 2007 verhuis hulle na Welkom waar hy sy laerskoolloopbaan by die St. Helena Laerskool voortsit. In 2013 matrikuleer hy aan die HTS Welkom en is tans ’n derdejaar-BEd-student aan die Noordwes-Universiteit.

Liggaamsbou is ’n baie duur sport en hy hoop om voor die kampioenskappe borge te kry om al sy kostes te dek.

Uit: Vista Donderdag 11 Augustus 2016)