Sunday 21 November 2021

Boodskap vir die matrieks

(Ons het hierdie gebêre vir die laaste helfte van die eksamen, wanneer die energie minder raak en die dae warmer en die eindpunt nog ver is.)

"Daar is reeds baie gesê oor die onderwerp van matriekeksamen, maar die belangrikste bly jul eie toewyding. Toewyding beteken dat jy net so getrou sal werk, soos jy aan die begin van jou skoolloopbaan gewerk het. En dit hang van jouself af. Almal, ouers, onderwysers, vriende en familie het ondersteun, moed ingepraat en gemotiveer. Nou is dit tyd dat jy alles moet gee".
Hierdie punte waarvoor jy nou werk, gaan vir jou deure oopmaak of toemaak. Jy het nou die geleentheid om vir jou 'n geleentheid te skep. Geleenthede gebeur nie net nie, jy skep dit. In die woorde van Chris Grosser: "Opportunities don't happen, you create them".

Die lewe is nooit sonder moeilike tye nie. Daar sal altyd storms, suidewinde, Jantjies en valse vriende wees wat oor jou pad gaan kom. Op hierdie stadium is jy besig met die storm van die tweede helfte van die laaste skooleksamen. Wees jou eie weldoener, help jouself en word die wenner wat jy eintlik is. 

Matrieks, mag dit met julle goed gaan. Sterkte vir julle uitslae in Januarie. Onthou: 'n Mens bou elke dag  aan jou toekoms - en die land se toekoms. Mag julle die vrede en kalmte van ons Hemelse Vader in hierdie laaste helfte van die eksamen ervaar.

'n Vreugdevolle en 'n geseënde Kersfees saam met hulle wat vir jou lief is. Vir julle wat familie aan die dood afgestaan het in hierdie veeleisende 2021, baie ekstra genade. Mag 2022 blinker en meer vreugdevol wees.