Wednesday 22 June 2022

Uit die mond van die jongeling sal jy die waarheid hoor ...

Kinders kan soms met die mees ongelooflike wyshede na vore kom. Miskien is dit die rede hoekom wyshede uit die kind se mond ‘n mens soms so kan verbaas - juis omdat jy dit nie verwag nie. Of dalk omdat die impak van die eerlikheid jou lank later nog tot nadenke stem.

Maandagoggend het pastoor Joshua die opening in die personeelkamer waargeneem. Sy dogtertjie van 7 het haar arm gebrand en moes dit gevolglik baie stil hou. 'n Maandagoggend begin maar altyd blou in 'n huis met klein kindertjies en in hierdie geval is dit geen uitsondering nie. Dié betrokke oggend moes sy haar taak skool toe vat, maar siende dat sy net een "werkende" arm het, en sy dié moes gebruik om die wielietjietas te sleep, gee pastoor sy 11-jarige seuntjie opdrag om die taak vir sy suster te dra. In geen onduidelike lyftaal, hangende skouers, opgeblaasde wange en oë waarin onbereidwilligheid boekdele spreek, sê hy dat hy dit nie kan doen nie. Een van die verskonings was dat sy tas baie swaarder as sy suster s'n is en dat hy reeds verantwoordelik vir sy eie taak is. 

Met die beperkte tyd in die oggend wat elke ouer het om partykeer wonderwerke met onwillige kinders te doen, vra hy vir Amo wat Jesus in hierdie geval sou doen? En sonder huiwering sê hy dat Jesus vir Botle gesond sou maak, sodat sy haar eie projek skool toe kan vat ...