Sunday 13 November 2022

Mnr. Fanie Pretorius beplan 'n wegbreek


Hierdie vakansie hou reisbeloftes in vir mnr. Fanie. Hy moet egter onthou dat hulle nie sy naam orals korrek sal uitspreek nie. Hier in die Vrystaat ken die mense hom as Fanie, Faan, selfs Fanus is nie te vergesog nie en Stefanus staan op die amptelike dokumente. Die leerders het sommer gou van hom as Malanka gepraat, want met sy lengte kyk hy van bo af op alle ongerymdhede.

Sy eerste stopplek is New York, waar almal hom as Steve gaan aanspreek. In London gaan hulle van Stephen praat en 'n vinnige kuiertjie by die familie in Wallis, gaan hy as Ystffan aangespreek word. Fanie verander na Etienne in Frankryk en sommige van die Franse kan hom selfs Stéphane noem. In Italië gaan hy pizza saam met vriende eet wat hom as Stefano ken. In Spanje gaan hy nie eens agterkom as hulle van hom skinder nie, want Esteban klink glad nie na 'n bekende nie. In Griekeland voel hy nie so ontuis nie, want Stephanos klink baie naby aan sy doopnaam. En daar tussen die Grieke sal hy ook sommer die betekenis van sy naam hoor, nl. bekroonde.     

In Duitsland voel hy amper tuis, want Stefan klink bekend. In Pole is die naam Stepan nie te ver van die bekende af nie, maar in Hongarye is Estevan of Istvan iets waaraan hy gewoond sal moet raak.

In Estland, Letland, Rusland en die Ooste is daar nog nie eens aangedoen nie, maar heel moontlik sal die uitspraak en die spelling ons pootjie.

Gebruik hierdie vakansie en volg die uitspraak en spelling van jou naam in die verskillende lande. 'n Heerlike reis vir elkeen van julle.