Monday 14 November 2022

Hoe hanteer jy konflik?

Elke mens hanteer konflik op 'n ander manier. Die verskillende maniere waarop mense op konflik reageer, word hieronder beskryf.

Die skilpad
Jy hou nie daarvan om te stry en te baklei nie. As twee leerders op mekaar skree of baklei, loop jy liewer weg. Jy vermy mense en situasies wat konflik kan veroorsaak.

Die haai
Jy wil altyd wen. Jy probeer ander mense dwing om soos jy te dink. Jy gee nie om om onpopulêr te wees nie, solank jy net jou doel bereik. As dit nie gebeur nie, word jy kwaad en voel dat mense jou verneder het.

Die teddiebeer
Dis vir jou baie belangrik dat ander mense van jou hou. Dit maak nie vir jou saak as jy nie jou doel bereik nie, solank jou vriende net nie vir jou kwaad wird nie. Jy hou nie daarvan om met ander mense te stry of te baklei nie.

Die jakkals
Jy hou van kompromieë. Jy probeer om ander mense te oortuig, maar as jy dit nie regkry nie, is jy bereid om hulle halfpad te ontmoet. Goeie menseverhoudings is vir jou baie belangrik.

Die uil
Jy probeer om jou doel te bereik sonder om ander mense kwaad te maak. Jy hou daarvan as almal tevrede is met 'n besluit wat geneem is. As jy sien dat iemand ongelukkig is oor die besluit wat geneem is, sal jy aanhou om 'n beter oplossing vir die probleem te kry.

Hoe hanteer jy konflik? Herken jy jou in een van hierdie diere??