Monday 19 December 2022

'n Opregte Tekkie-dankie

Ons sê te min dankie. Ons sê te min opreg dankie. Dankie wat uit die hart kom. 2022 het aan almal uitdagings gestel en aan al die werkers wat hulle deeltjie gedoen het, 'n GROOT DANKIE vir die jaar se werk.

Die werk wat ons doen, is nie noodwendig ons eerste keuse nie. Baie keer is dit die enigste werk wat ons pad kruis. Die geheim is om dit wat jy doen, te geniet en so goed as moontlik te doen. Maar dis makliker gesê as gedaan, want ons is mense ...

Dr. Martin Luther King jr. het dit so opgesom: As ‘n man geroep word om ‘n straatveër te wees, moet hy strate vee soos Michelangelo geverf het, Beethoven gekomponeer het en Shakespeare gedig het. Hy moet strate so goed vee dat die hemel en aarde sal stilstaan en sê: ‘Hier het ‘n uitstekende straatveër gebly wat sy werk goed gedoen het.’”

So, wees ‘n straatveër, maar wees die beste straatveër in die wêreld.

Aan elkeen van die Tekkie-werkers, wat 'n heerlike ontspanne kuierdag by die rugbylapa deurgebring het, mag julle Kersfees geseënd wees en baie voorspoed vir 2023 met al die nuwe uitdagings wat al klaar lê en loer. Ons sê nie gereeld en genoeg dankie vir die verskil wat julle maak nie.