Skooltradisies is die waardes en gebruike wat van geslag tot geslag oorgedra word. Dit vorm ook die hartklop van 'n skoolgemeenskap, en dit dra by tot 'n gevoel van behoort, van saamwees, en kweek trots en lojaliteit. Dit gee aan die skool sy unieke identiteit.
Gedurende 1998 het mnr. Van Vuuren besluit om nuwe tradisies as deel van die leerder se onthou te begin.
Die oggend van die laaste dag het die hoofseun en onderhoofseun die skoolhoof by die huis gaan haal en dan het hulle saam 'n glasie geklink in die voorportaal op 'n jaar wat verby is, die eksamen wat op hande is en op die toekoms van die skool en die skoolverlaters.
 |
| Matrieks 2022 |
Daar is ook besluit dat die matrieks elkeen 'n bordjie eetgoed op die laaste dag skool toe sal bring. Die damespersoneel het die tafels in die personeelkamer mooi gedek en die matrieks en personeel het gesellig saamgekuier rondom 'n bordjie eetgoed, met 'n lekker koppie koffie in die hand. Onthougedagtes, grappe, en ernstige praatjies het mekaar afgewissel. Die skoolhoof het namens die personeel gepraat. Sterktewense vir die eksamen, maar ook vir hul lewensreis buite die veilige mure van die skool, word elke matrikulant toegewens. Die hoofseun het namens die matrieks gepraat. In sy boodskap het hy vertel van die op- en afdraandes, die klippe kou, maar ook die vreugde van skool, sport, akademie en vriende. Daar was ook tyd om 'n staaltjie of twee te deel.
 |
| Matrieks 2022 |
Daarna het hulle saal toe gegaan. Die ander leerders het hulle reeds ingewag en die voorste stoele is gereserveer vir die eregaste van die dag. Hulle het vir oulaas 'n saalopening bygewoon waar nie net die skoolhoof nie, maar ook ander sprekers goeie wense vir hulle toegewens het. Die skoollied is vir oulaas uit volle bors gesing. Die einde van 12 jaar het 'n realiteit geword en daarna het die matrieks onderdeur die klok geloop, terwyl die res van die skool 'n erewag gevorm het en die matrieks luid toegejuig het.
Tussen die twee wit pilare, het vir baie jare 'n egte koperklok gehang. Maar hierdie klok het een aand, baie jare terug, voete gekry en dit is toe vervang met 'n egte plastiese koperklok. Die matrieks het onderdeur die klok geloop en aan die klok geraak, terwyl mnr. Tobie Louw 'n handklok gelui het. Hierdie klok is vir baie jare by Unitas geleen.
 |
| Barry en Costa 1998 |
Baie leerders was merkbaar aangedaan as hulle tussen die twee pilare deurloop, ander het gespring van vreugde en die korter leerders het gespring om die klok by te kom. Soms het een leerder 'n ander een skoueromhoog onderdeur die klok gedra - alles planne as jou lengte nie tot jou voordeel strek nie.
Hierdie laaste-dag-instellings wat elke jaar met groot vreugde nog plaasvind, se wortels lê in 1998 toe Barry Saayman (hoofseun) en Costa Cambanis (onderhoofseun) op mnr. Henk van Vuuren se idees ingekoop het en hulle saam 'n nuwe tradisie vir HTS begin het.
[As daar enige oud-Tekkies is van 1998 met mooi foto's, stuur dit asb. na Tekkie Tonic.]