Saturday 9 April 2022

HTS groet Hester

Dit is met groot hartseer dat ons vanaand verneem het van Hester Bothma, HTS se sekretaresse se dood. Hester was vir meer as 20 jaar die inspirasie in die hartkamer van die skool.

Sy was ‘n kollega, 'n vriendin en 'n omgee-tannie met ‘n hart van goud. Sy het altyd gehelp waar sy kon. 'n Vriendelike sekretaresse wat altyd bereid was om die ekstra myl vir elke onderwyser te loop.

Sy was baie lief vir blomme, veral krismisrose. In beide haar en die hoof se kantore was altyd blomme uit haar tuin. Sy was al die jare verantwoordelik vir die groot blommerangskikkings van die skool se prysuitdelings en ander funksies.

Groente en suurlemoene uit die oorvloed van haar tuin, het dikwels ongesiens in die personeelkamer geland met sakkies, sodat elkeen na behoefte kon vat.

Sy het nooit 'n personeeluitstappie gemis nie, sy was hart en siel deel van die skool se melodramas. 

Hester se ander groot talent was kosmaak en onthaal. Sy en Riana het baie keer die spyskaart vir die matriekafskeid en personeelfunksies uitgewerk en voorgesit. Van peuselhappies kon jy haar niks leer nie.     

Haar kantoor was dikwels 'n miernes van bedrywighede, want die een wil iets hê, die ander iets gee, nog een soek 'n vorm of 'n telefoonnommer en aan almal het sy aandag gegee. Die ekstra stoel in haar kantoor, so half weggesteek in die hoek, was baie keer die biegstoel, want Hester kon goed luister, raad gee en verstaan waardeur mense gaan. Dikwels was 'n woord van bemoediging en 'n glimlag al wat nodig was, om dié een weer op die pad te kry.      

Hester se rykdom het in haar innerlike waarde gelê. Ons kan haar in twee woorde raakvat: dierbaar en kosbaar.

Hester, jou plekkie by HTS sal leeg wees, maar in ons harte sal jy altyd voortleef. Ons gaan jou ongelooflik mis, maar ons gun jou die rus.

Ons laat die skool se vlae halfmas vir HTS se juweel hang. Ons harte gaan uit na Hester se gesin en familie. Mag julle vrede daarin vind dat sy veilig is.

Tekkie-liefde

Die SAOU ADMIN-seminaar: 5&6 Junie 2018

Hester Bothma, Riana Crauwcamp en Estia Greeff

Die provinsiale tegniese kompetisie van 2019

Prysuitdeling 2019 en melodrama 2015

Prysuitdeling 2019 en melodrama 2011
Foto's en boodskappies HIER!