Sunday 22 October 2017

Agostinho Nhancale - Dux 2017

HTS se Dux-leerder vir 2017 is 'n lang man... 'n stil man... wat ongemerk sy akademiese merk gemaak het en die verhoog met 'n armvol trofees verlaat het. Sy leuse is nie verniet: "Laat jou sukses die praatwerk doen" nie.

Hy het 'n halfdosyn onderskeidings behaal en pryse vir die volgende vakke gekry: Afrikaans Eerste Addisionele Taal, Elektriese Tegnologie, Ingenieursgrafika en ontwerp, lewensoriëntering, Engels Huistaal, Wiskunde en Fisiese Wetenskap. Hy het die HTS wisseltrofee vir die hoogste gemiddeld in wiskunde gekry, asook die HTS wisseltrofee vir Elektriese Tegnologie vir die hoogste gemiddeld in hierdie vak.


Die Christo Langeveld wisseltrofee vir die hoogste gemiddeld in enige werkswinkel is ook deur hom ingepalm gevolg deur die Marie-Louise Lamprecht wisseltrofee vir die hoogste gemiddeld vir Fisiese Wetenskap. Hy kry ook die HTS wisseltrofee vir die hoogste gemiddelde punte in lewensoriëntering. Die gesogte Sergei Merkuloff-wisseltrofee vir die beste vordering in Afrikaans is ook deur Agostinho van die verhoog gedra. (Hierdie wel ter tale Rus, wat SA in 1994 besoek het, het die trofee geskenk nadat hy baie beïndruk was met onderwys in SA)