Sunday 29 October 2017

Nog studiewenke...

1.  Studeer in ’n ruimte waar daar genoeg lig en vars lug is. 

2.  Organiseer jou werksruimte sodat jy weet waar alles is. 

3.  Probeer om slegs die vak waaraan jy op die oomblik werk se materiaal op jou lessenaar te hê.

4.  Moenie jou studiemetode met dié van ander vergelyk nie. 

5.  Vind uit watter metode vir jou werk en hou daarby. Moenie dat ander leerders se indrukwekkende vloeidiagramme of kleurvolle vlaggies jou intimideer nie – nie almal se breine absorbeer inligting op dieselfde manier nie.

6.  Moenie te lank aaneen leer nie – neem gereeld kort breke en moenie in dieselfde vertrek bly nie. Gaan loop ’n draai en rek jou bene.

7.  Slaap genoeg. Neem jou produktiewe tyd in ag – sommige mense is meer produktief in die oggend en moet vroeër gaan slaap; ander is meer produktief in die aand en moet dan eers wanneer hulle genoeg slaap ingekry het, opstaan.

8.  Moenie die uitwerking van gesonde kos en genoeg water onderskat nie.

9.  Indien dit nuttig is vir jou om saam met ander te leer, reël produktiewe studiesessies met een of meer ander mense nadat almal genoeg tyd gehad het om op hul eie deur die materiaal te gaan. Deur die werk met ander te bespreek en probleemgebiede te identifiseer, kan jy die inligting vaslê en hoef jy nie op jou eie aan te sukkel nie.

10. Doen beplanning! Besluit vooraf watter werk jy op ’n gegewe dag gaan doen; weet wanneer jy jou volgende vraestel skryf; weet watter inhoud in die vraestel gedek gaan word; en daag betyds by die eksamenlokaal op.

11. Moenie jou ore uitleen aan mense wat paniekbevange raak voor ’n vraestel nie – al beteken dit jy moet hulle vermy voordat jy by die eksamenlokaal ingaan.

12. Vra hulp as jy voel jy het dit nodig – enige hulp kan die verskil tussen 69% en 70% of 79% en 80% beteken.

13. Moenie toelaat dat jou aandag afgetrek word deur sosiale media soos Facebook, Instagram en YouTube nie. Indien dit nodig is, teken uit vir die duur van die eksamen. Daar sal na die eksamen baie tyd wees om in te haal.


14. Moenie tydens die eksamen probeer inhaal op TV-reekse wat jy nog nie gekyk het nie!