Friday 20 October 2017

Wenke vir matrieks: Doen dít voor die eksamen

Matrikulante landwyd doen hul laaste voorbereidings vir die eindeksamen wat binne vier weke begin.

Volg hierdie wenke om te verseker jou eksamenvoorbereiding verloop seepglad:

Beplan. Stel ’n studierooster op wat jou klasse, huistakies en sosiale afsprake in ag neem en hou daarby.
Knyp genoeg tyd af vir slaap en moet nie net ná etes weer begin studeer nie; rus eers ’n halfuur lank nadat jy geëet het.

Bly opgeruimd. Dink aan maniere om jou te motiveer, deur byvoorbeeld jouself te beloon met ’n Facebook-sessie ná jy ’n afdeling voltooi het.

Besluit waar jy gaan studeer. As jy nie ’n stil, privaat plek het waar jy tuis kan studeer nie, reël met ’n vriend(in) om by sy/haar huis saam te studeer of gaan biblioteek toe.

Skep gereeld asem: 10-15 minute ná ’n sessie van 35-45 minute.

Oefen sodat jy stres kan verlig – selfs al loop jy net om die blok. Dit sal jou ook beter help slaap.

Onderstreep of highlight belangrike woorde en idees in kleur sodat dit uitstaan wanneer jy hersien.

Liasseer jou notas in ’n lêer en gebruik gekleurde karton om die verskillende leerareas te onderskei.

’n Uitstekende manier om te studeer is om die werk aan ’n vriend of vriendin te verduidelik.

Moenie paniekerig raak wanneer jou tyd min word nie. Besluit wat die belangrikste werk is en maak seker jy ken dit goed.

Moenie pille of drankies drink wat beloof om jou skerper te maak of jou wakker te hou nie.

As jy internettoegang het, besoek Huisgenoot.com en laai vraestelle af wat jy as voorbeelde kan uitwerk.
(Shané Barnard)