Saturday 24 February 2018

'n Wonderwerk vir R10,55...

Baie dankie aan mnr. JD van den Berg wat hierdie verhaal met die personeel gedeel het, Vrydagoggend tydens opening in die personeelkamer. Ek plaas dit hier

Tessa was agt jaar oud toe sy hoor hoe haar ma en pa oor haar klein boetie André praat. Al wat sy geweet het was dat hy baie siek was en dat hulle glad niks geld gehad het nie. Hulle moes na ‘n woonstel verhuis omdat pappa nie meer geld gehad het om die dokters en die huis te kon betaal nie. Net ‘n baie duur dokter kon haar boetie se lewe red en daar was niemand wat bereid was om vir hulle die geld te leen nie. Sy het gehoor hoe haar pappa vir haar mamma sê dat net ‘n wonderwerk haar boetie kan red.

Tessa het na haar kamer gegaan en ‘n konfytbotteltjie uit die wegsteekplek uit haar kas uitgehaal. Sy het die kleingeld wat binne in was op die vloer uitgegooi en versigtig getel. Die bedrag moes presies reg wees! Sy het die muntstukke versigtig in die glas potjie teruggegooi en die deksel weer opgedraai. Daarna het sy by die agterdeur uitgeglip en an die apteek op die hoek gestap.

Toe sy daar kom, was die apteker druk in gesprek met ‘n ander man. Tessa het gewag en gewag, maar die apteker het geen aandag aan haar gegee nie. Sy het later haar voete op die grond geskuur om aandag te trek, maar dit wou ook nie werk nie. Sy vat toe een van die muntstukke in die botteltjie en klap dit hard met haar plat hand op die toonbank neer. Die harde klap geluid het dadelik die twee mans se aandag getrek.

“Wat wil jy hê,” vra die apteker vies, “Ek is besig om met my broer van Chicago te praat wat ek vir jare nie gesien het nie!”

“Ek wil graag met oom gesels oor my klein boetie. Hy is baie siek en ek wil graag ‘n wonderwerk koop, ” sê sy. Met die woorde maak sy die glaspotjie oop en gooi die inhoud op die toonbank uit.

“Hoe nou?” vra die apteker verbaas; baie minder geïrriteerd.

“My boetie is baie siek,” verduidelik sy, “sy naam is André. My pa sê daar groei ‘n slegte ding in sy brein en net ‘n wonderwerk kan hom help. Hoeveel kos dit om ‘n wonderwerk te koop?”

Die apteker kyk na die dogtertjie en kry haar innig jammer. “My kind,” sê hy, “ek kan jou nie help nie, want ons verkoop nie wonderwerke nie…”

Dr Carlton Armstrong, 
‘n neurochirurg. 
“Sal dit help as ek nog geld bring?” vra sy teleurgesteld.

Die apteker se broer vra toe, “Watter soort wonderwerk het jou boetie nodig.”

Met trane in haar oë sê sy: “Ek weet nie eintlik nie. Ek weet net dat André baie siek is en dat mamma sê ons het nie geld vir ‘n operasie nie. Ek het gedink ek kan met my spaargeld die wonderwerk kom koop waarvan pappa gepraat het.”

“Hoeveel geld het jy?” vra die apteker se broer. Sy wys na die munte op die toonbank en hy tel dit. “Tien rand en vyf en vytig sent. Dis nou toevallig, want dis presies hoeveel ‘n wonder werk vir klein boeties kos!” sê hy.

Hy vat die geld en haar handjie en sê: “Neem my na julle huis toe sodat ek jou boetie en jou ouers kan ontmoet.”Die apteker se broer was Dr Carlton Armstrong, ‘n neurochirurg. Hy het die operasie verniet gedoen! Dit was nie lank daarna nie, toe was André weer by die huis besig om aan te sterk.

Tessa se ouers het lank gewonder wat so ‘n operasie sou gekos het, maar Tessa het geweet:Tien rand en vyf en vytig sent! Plus die onwrikbare geloof van ‘n agtjarige!

‘n Wonderwerk is gevolglik nie die opheffing van ‘n natuurlike wet nie, maar die werking van ‘n hoër wet in ons lewens.[Aangepas: https://www.suiderkruis.co.za/hoeveel-kos-n-wonderwerk/#.WpJiddR97Gg]

[In Engels: http://www.actsweb.org/articles/article.php?i=879&d=2&c=2]

[https://afterjujuman.wordpress.com/tag/dr-carlton-armstrong/]

[http://publicfigure.me/en/2016/12/29/love-and-faith-can-everything-6-year-old-girl-saved-her-brother-from-death/]