Niemand staan onverskillig teenoor 'n
kerkbasaar nie, praat gerus met betrokke gemeentelede en hulle sal vir jou sappige
staaltjies kan vertel.
Dutoitspan-gemeente se basare is so oud
soos Metusalem. Die eerste basaar is op 9 September 1871 gehou. Toegangskaartjies
is by die deure verkoop en 'n bekende koperblaasorkes van daardie jare het heerlike
musiek gemaak, van walse tot by die marsmusiek van Vincenzo Bellini. Op die
keper beskou is dit mos die regte musiek om geld uit die sakke van die
besoekers tot binne in die kerkkoffers te kry. Die musiekprogram is selfs in
die koerant gepubliseer met die belofte dat artikels teen billike pryse te koop
sal wees.
So het die nederige basaar sy eie
geskiedenis begin en jaar na jaar dieper spore in die gemeente getrap. Elke jaar
is daar iets nuuts probeer, want 'n basaar met karakter laat hom nie voorskryf
nie! Tot Covid-19 Suid-Afrika getref het ... óf liewer die wêreld getref het. Skielik
het kerkbasare van die kalender verdwyn en die broodnodige inkomste daarmee
saam. Amper soos die bekende kommandowurms wat die oes opvreet, het die virus
sy kake in kerkbasare, kermisse en enige vorm van samekomste geslaan.
Daar is in 2021 op deeltjiebasare of
stukkiebasare besluit ... twee tafels verkoop hulle goed op 'n Saterdag, sommer
so deur die motorvenster ... jou bestelling vir pannekoeke, worsrolletjies en bakkies
poeding moet voor die tyd geplaas word en dan moet jy ook die regte hoeveelheid
geld by jou hê. Skielik het die bekende persoonlike basaar verander na 'n
onpersoonlike padkafeestyl ... tipies Amerikaans ...
Die vooraf saamwerk, spanbou en vrolike
samesyn wat noodsaaklik is vir die opbou na die hoogtepunt, is op die
agtergrond geskuif en al saniterend met ons maskers op, glimlag ons vir hulle
in die motors wat die polistireenbakkies met die onpersoonlike inhoud wantrouig
aanvat.
Is die koeël deur die kerk en het ons die
die laaste gelui vir die kerkbasaar gehoor??