Friday 17 December 2021

Katte het 7 lewens en opgepaste speelgoed ....

Valerie Kilian en Karin Herbst
by speelgoed met 'n
verlengde lewe!!
Katte het 7 lewens, maar opgepaste speelgoed oortref hierdie gelukkige katte.

Speelgoed is deesdae nie meer sommer op die lysie van ouers nie. Weens die huidige ekonomiese klimaat en ook die omstandighede by huise, noop dit baie ouers om net aandag te gee aan die uiters noodsaaklike items.

Speelgoed speel egter 'n besliste rol in 'n kind se lewe, buiten die ooglopende vreugde wat dit verskaf.

Speelgoed leer kinders om te sosialiseer, maar ook om dit te deel met ander maatjies.

Hulle verbeelding word gestimuleer en hulle leer kreatief omgaan met die speelding.

Kinders leer om die werklikheid na te boots.

Hulle leer om al hul sintuie in te span wanneer hulle speel.

Speelgoed is universeel en kinders oor die wêreld heen weet hoe om met 'n betrokke speelding te speel. Wat egter vir kinders geleer moet word, is hoe om speelgoed op te pas. En dit is juis hierdie gedrag wat speelgoed se lewe verleng. 

Kyk dus met nuwe oë na ou speelgoed en dink baie mooi voordat 'n teddie of karretjies se lewe kortgeknip word deur hulle asdrom toe te verban.