Saturday 25 December 2021

Covid-19 die kommandowurm van kerkbasaars

Niemand staan onverskillig teenoor 'n kerkbasaar nie, praat gerus met betrokke gemeentelede en hulle sal vir jou sappige staaltjies kan vertel.

Dutoitspan-gemeente se basare is so oud soos Metusalem. Die eerste basaar is op 9 September 1871 gehou. Toegangskaartjies is by die deure verkoop en 'n bekende koperblaasorkes van daardie jare het heerlike musiek gemaak, van walse tot by die marsmusiek van Vincenzo Bellini. Op die keper beskou is dit mos die regte musiek om geld uit die sakke van die besoekers tot binne in die kerkkoffers te kry. Die musiekprogram is selfs in die koerant gepubliseer met die belofte dat artikels teen billike pryse te koop sal wees.

So het die nederige basaar sy eie geskiedenis begin en jaar na jaar dieper spore in die gemeente getrap. Elke jaar is daar iets nuuts probeer, want 'n basaar met karakter laat hom nie voorskryf nie! Tot Covid-19 Suid-Afrika getref het ... óf liewer die wêreld getref het. Skielik het kerkbasare van die kalender verdwyn en die broodnodige inkomste daarmee saam. Amper soos die bekende kommandowurms wat die oes opvreet, het die virus sy kake in kerkbasare, kermisse en enige vorm van samekomste geslaan.

Daar is in 2021 op deeltjiebasare of stukkiebasare besluit ... twee tafels verkoop hulle goed op 'n Saterdag, sommer so deur die motorvenster ... jou bestelling vir pannekoeke, worsrolletjies en bakkies poeding moet voor die tyd geplaas word en dan moet jy ook die regte hoeveelheid geld by jou hê. Skielik het die bekende persoonlike basaar verander na 'n onpersoonlike padkafeestyl ... tipies Amerikaans ...

Die vooraf saamwerk, spanbou en vrolike samesyn wat noodsaaklik is vir die opbou na die hoogtepunt, is op die agtergrond geskuif en al saniterend met ons maskers op, glimlag ons vir hulle in die motors wat die polistireenbakkies met die onpersoonlike inhoud wantrouig aanvat.

Is die koeël deur die kerk en het ons die die laaste gelui vir die kerkbasaar gehoor??