* Die gekerm van studente oor koshuiskos is niks nuuts nie. Soos inflasie sal dit altyd met ons wees. By een so 'n probleemkoshuis vererg die matrone haar bloedig vir die gekla.
Sy gaan plant haar reg aan die bopunt van die tafel waar die primarius sit en met dik arms op haar mollige heupe wil sy weet wat die probleem nou eintlik is.
Die primarius, wat nie van dieselfde postuur was nie, stoot toe so half onseker twee snye brood in haar rigting met die woorde: "Toe, praat vir julleself. Julle is oud genoeg."
* Mike besoek sy studerende seun op Stellenbosch en hulle gaan eet saam in een van die bekende restaurante in die studentestad.
Ná die ete bring die kelner die rekening. Mike betaal dit en laat so te sê niks vir die kelner nie.
"Meneer,"sê die kelner half vies, "wanneer jou seun en sy meisie hier kom eet, gee hy my altyd 'n ordentlike fooitjie."
Waarop Mike antwoord: "Hy kan dit bekostig. Hy het 'n ryk pa."
[Bron: Finansies & Tegniek, 5 Julie 1996]