Sunday 30 July 2017

'n Eenkeer-in-'n-leeftyd-geleentheid!


Die HTS Welkom se bibliotekaris en Afrikaanse onderwyser mnr. André H van Dyk, was in die bevoorregte posisie om Mimi Coertse se 85ste verjaardagviering by die Lemon Jack teater in Centurion, Pretoria by te woon. Hy was die enigste Vrystater wat hierdie voorreg gehad het. Die partytjie was 'n glansgeleentheid en voorwaar 'n gepaste manier om die diva se lewensbydrae tot musiek te vier.

Bekroonde soprane en tenore het vir die vermaak gesorg. Die tenore was Coert Grobbelaar, Dewald von Solms en Chris Mostert wat die Bel Canto Ensamble verteenwoordig het. Soprane Michelle Veenemans (wie se ma Barbara Veenemans self 'n operasangeres was, asook die suster van Leonore Veenemans) en Goitsemang Lehobye.

Bekende afgetrede radio-omroeper Tinus Esterhuizen (verhoognaam Martin Lane) het vir 'n wonderlike keurspel op die klavier gesorg, wat al Mimi se bekendste liedere van O Boereplaas tot die Koninging van die nag ingesluit het.

Na afloop van die konsert is al die gaste genooi om 'n glasie op Mimi te klink en op persoonlike vlak te verkeer. Televisiepersoonlikheid en sakeman, Dawie Roodt, het die bedankings behartig. Die bekende aria uit Verdi se La Traviata - Libiamo ne lieti calici, is as verrassing gesing.

Sakkie Kotzé van die ATKV het vir Mimi 'n koek laat bak met 85 op. André van Dyk is ook as Sakkie se persoonlike fotograaf vir die aand aangestel.

Die aand is afgesluit met heerlike warm sop en broodjies.

Van Dyk spog met 'n getekende kopie van Wouter de Wet se boek Onse Mimi. Voorwaar 'n titel eie aan haar en Suid-Afrika.