Sunday 15 April 2018

'n Gesprek by 'n onthaal...

Die gaste het almal om die etenstafel gesit en die lewe in die algemeen bespreek. Een man, ‘n uitvoerende bestuurder, besluit om die hedendaagse probleem van onderwys te verduidelik.

Sy argument: “Wat gaan ‘n kind leer van iemand wat besluit het sy beste opsie in die lewe was om ‘n onderwyser te word?”

Om sy argument verder te benadruk sê hy aan een van die gaste aan tafel: “Jy is ‘n onderwyseres, Magda. Wees eerlik. Wat doen jy in ‘n jaar as onderwyseres?”

Onderwyseres Magda, wat ‘n reputasie gehad het vir haar eerlikheid en openhartigheid, antwoord: “Jy wil weet wat ek in ‘n jaar doen?”

(Sy huiwer vir so ‘n oomblik en begin ...)

“Wel, ek maak seker dat kinders harder werk as wat hulle gedink het moontlik is. Ek laat die ondergemiddelde outjie voel asof hy die hoogste onderskeiding gekry het indien hy ‘n C+ behaal. Ek laat kinders ‘n hele 40 minute in ‘n klas sit en werk, terwyl hul ouers hulle nie eens sover kan kry om vir 5 minute stil te sit sonder ‘n Ipod, skootrekenaar of fliek nie. Wil jy regtig weet wat ek doen?”

(Sy huiwer weer vir ‘n oomblik terwyl sy na al die gaste om die etenstafel kyk)

“Ek slaag daarin dat kinders wonder.

Ek moedig hulle aan om dinge te ondersoek.

Ek moedig hulle aan omverskoning te vra en dit te bedoel.

Ek leer hulle om respek vir hulself te hê en vir ander en om verantwoordelikheid te neem vir hul aksies en dade.

Ek leer hulle hoe om te skryf en gee hulle dan geleentheid om te skryf. Om op ‘n sleutelbord te kan werk, is nie alles nie.

Ek moedig hulle aan om te lees en lees en lees ...

Ek leer hulle hoe om somme te maak en wiskundige berekening te doen. Hul gebruik hul Godgegewe verstand en nie ‘n mensgemaakte sakrekenaar nie.

Ek leer hulle om ‘n liefde vir hulle taal te ontwikkel, terwyl hulle hul eie unieke kultuuridentiteit bewaar en behou.

Ek poog dat my klaskamer ‘n plek is waar elke leerder veilig en beskermd voel.

Laastens, laat ek hulle verstaan dat indien hulle hul talente gebruik wat aan hulle geskenk is, hard werk en hulle hart volg, kan hulle sukses in die lewe behaal.”

(Magda huiwer nog ‘n laaste oomblik en gaan dan aan,)

“Dan, wanneer iemand my probeer oordeel op wat ek in ‘n jaar doen, kan ek my kop omhoog hou en hulle ignoreer, want hulle is oningelig.

Jy wil weet wat doen ek in ‘n jaar? 

Ek maak ‘n verskil in almal van julle se lewens, voed julle kinders op en berei hulle voor om uitvoerende bestuurders te word en dokters en ingenieurs ...

Wat doen jy in ‘n jaar, Meneer Uitvoerende Bestuurder?”

Sy mond val oop, terwyl hy sprakeloos sit. Oorbluf deur haar teenargument ...