Elke ding
het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd. (Prediker 3:1)
Wanneer dit
tyd word om te groet, kan ons dit doen met die wete dat die Here in beheer is
en dat sy tydsberekening volmaak is.
Soms is dit
makliker om tot siens te sê as andere kere. Soms groet ons met die wete dat dit
net tydelik is. Ouers kan byvoorbeeld hulle kinders vrolik tot siens sê wanneer
hulle hulle in die oggende wegsien skool toe, want voor die dag om is, is hulle
weer tuis.
Partykeer
is dit moeiliker om tot siens te sê, byvoorbeeld wanneer ons kinders of
geliefdes wat in 'n ander land gaan woon, moet groet. Vroeër in hulle
geskiedenis het die Iere, waar baie mense op 'n stadium geëmigreer het, hierna
as die vloek van emigrasie verwys.
Om iemand
vir wie jy lief is te verloor, is seker die seerste groet van almal. Die
skeiding is so finaal. Christene kan hulleself egter troos met die wete dat
omdat ons een in Christus is, geen afskeid finaal is nie. Die hartseer is egter
'n realiteit en slegs die Heilige Gees, die Trooster, kan ons in sulke tye krag
gee en vertroos.
Daar word
dikwels gesê dat wanneer soldate oorlog toe gaan, is diegene wat by die huis
bly wat die swaarste kry. Dieselfde kan gesê word wanneer iemand sterf. Die
familie en vriende wat agterbly, is hartseer en in rou gedompel.
Wanneer ons
sterf, keer ons liggame terug na die aarde, want stof is jy, en tot stof sal jy
terugkeer. Ons as Christene glo dat jou siel (die ware jy) gaan om by die Here
te wees.
Danksy die
Here se volmaakte tydsberekening glo ek dat ek dan gearriveer het by die huis
van my Vader waarheen Jesus gegaan het om vir my 'n plek gereed te maak.
(Johannes 14:2)
Wat 'n
salige gedagte!
Gebed:
Hemelse Vader, skenk aan ons die genade om te leef in die wete dat die beste
nog voorlê. Dit bid ons in Jesus se Naam. Amen
Bron:
Bybelgenootskap van Suid-Afrika, Vers-'n-dag
[Ons plaas hierdie vertroostingsboodskap wat in Maroela Media op 5 Sept. 2013 verskyn het, vir Mike Visagie, omdat met die inperking van Covid-19 daar eers later 'n diens sal wees.]