Monday, 30 June 2025

LOL: Blou Maandag-humor ...

* Nuwerwetse tegnologie kan soms probleme skep.
'n Vrystaatse ingenieursmaatskappy het 'n rekenaar uit Amerika ingevoer, veral om ingenieurstekeninge en -ontwerpe mee te doen.
Soos verwag kan word, het dit onder meer 'n (rekenaar)muis ingesluit.
Dit was egter een te veel vir die doeane- en aksynsklerk wat die paperwerk moes hanteer het. Die gevolg? Die muis (en die rekenaar) moes twee weke in kwarantyn deurbring.

* 'n Graad 11-leerling was skynbaar 'n bietjie verward oor wat nou eintlik met 'n vraag in die lewenswetenskapvraestel bedoel is. 
Die vraag was: "Noem 'n voorbeeld van 'n vlieënde soogdier."
Die leerling se antwoord: "'n Lugwaardin."

* 'n Werksoeker stap onlangs by 'n duikkloppersaak in en vra of hulle 'n duikklopper nodig het.
"Nee," is die kortaf antwoord.
Die res van die gesprek verloop toe soos volg:
"Het u nie altemit 'n spuitverwer nodig nie?'
"Nee!" 
"Het u dalk 'n skoonmaker nodig?"
"Nee!" 
"Het u dalk 'n sekuriteitsman nodig?"
"Nee!" 
"In daardie geval het u beslis een van hierdie nodig," sê die werksoeker en haal 'n netjies geverfde bordjie uit sy tas. Agterop was 'n prys van R50 en voorop: "Geen vakatures."