Ek plaas hierdie ter wille van al my oudleerlinge van 1994 tot so 1998, asook familie en vriende, wat vir Andrei Ignatenko (андрей игнатенко) kan onthou. Ek het so paar dae terug verneem dat Andrei oorlede is op die jong ouderdom van 60. Dit is eintlik so tragies, want hierdie man het 'n reuse indruk op my gemaak. Ek en Alda was só bevoorreg om baie keer met hom hier in SA te kon kuier, asook in Rusland.
Vir my oudleerlinge wat aan hom blootgestel is: Julle was nét so bevoorreg om hom vele kere by ons debatsgeleenthede te kon beleef. 'n Rus wat Afrikaans kon praat en só goed daarin was dat hy selfs die humor en idiomatiese taal uitstekend hanteer het. Miskien onthou julle hoe hy vertel het dat hy 'n spontane belangstelling in Afrikaans ontwikkel het terwyl hy Nederlands bestudeer het aan die Lomonosov Universiteit in Moskou. Sy dosent het hom vertel dat daar aan die suidpunt van Afrika 'n taal genaamd Afrikaans is wat amper soos Nederlands klink. Toe leer hy vanself Afrikaans aan, het hy vertel. Daar was uiteraard omtrent geen bronne nie; wel 'n paar Afrikaanse koerante in die biblioteek. Maar studente moes spesiale toestemming vra om dit te lees, aangesien dit as verbode materiaal verklaar was. Onthou - dit was nog die tye van die Koue Oorlog en die USSR (Unie van Sowjet Sosialistiese Republieke)! Die Berlynse Muur het ook nog gestaan. Later het Andrei, ná die amptelike val van kommunisme, 'n beurs gekry om hier by die Vrystaatse Universiteit Afrikaans te kom studeer en teen die einde van 1994 het hy sy meestersgraad voltooi wat gehandel het oor die vertalingsaspekte tussen Russies en Afrikaans. Ek en Alda het hom gaan opsoek en dis hoe dit gebeur het dat ons ons leerlinge se wêreld groter kon maak deur middel van kontak met Andrei.
Hy was 'n hele paar keer in SA met sy studente en een keer het hy en Irina Egorowa 'n hele paar dae hier by ons aan huis gekuier. Soos altyd was Andrei 'n interessante gas gewees! Irina het baie goed by Andrei geleer en haar Afrikaans was baie goed gewees. Ook 'n sjarmante meisie! Ek en Alda het nagte omgesels met hulle twee. Andrei het vele interessante stories oor Rusland vir ons vertel en selfs vir ons Russiese liedjies gesing en die volksverhale daaragter vertel. Ons was in 1995 by hom in Moskou en kon dus die kontekste goed verstaan.
Hierdie kuier in Moskou het gebeur omdat ons deel was van een van die eerste toergroepe wat Rusland besoek het ná die wedersydse demokratisering van die Russiese Federasie (nie meer USSR nie) en Suid-Afrika. Larissa, Andrei se vrou, het in die toeristebedryf gewerk en sy het ons op 5 Julie 1995 op die Sheremetyevo-2-lughawe in Moskou binne die doeanegebied kom ontvang. Sy het soos familie gevoel want die taalprobleem was onmiddelik opgelos omdat sy baie goed Engels praat. Andrei het heerlik by ons toergroep ingeskakel en wanneer daar vrye tyd vir ons was, het hy vir my en Alda op persoonlike uitstappies geneem. So, ons het eintlik 'n toer binne 'n toer beleef en BAIE ander goed beleef wat gewone toeriste nie gedoen het nie. Dit was só spesiaal! Andrei en Larissa het ons ook op 'n heerlike Russiese tafel (aandete) getrakteer. Russiese beetsop, bier uit Bulgarye, rooiwyn uit Oekraïne, frambose uit die woude en heerlike vleis. Watter kosbare herinneringe het ek en Alda nie aan hierdie besondere man nie. Dit was vir my baie treurig om te hoor dat hy oorlede is.
Henry Welman