Sunday 2 October 2022

Wyse denker ...

Pastore Monyane (senior
en junior)
Pastoor Monyane het Vrydagoggend die opening in die personeelkamer waargeneem. Die insig van klein kindertjies stem 'n mens óf tot nadenke óf  sorg vir 'n goeie lagbui.

Sy oudste tweetjies se voorskoolgesprek wat 'n vorige keer met die lesers gedeel is, het heelwat positiewe reaksie uitgelok. Om die volgende storie te verstaan, moet daar in gedagte gehou word dat hierdie tweetjies 'n bababoetie vanjaar bygekry het.

Amo vra vir sy pa om vir hom die storie van die wyse manne te vertel. Al vertellende met 'n verduideliking so tussendeur voldoen sy pa aan sy versoek. Die denker in hierdie gesin is die 7-jarige sussie, wat aandagtig na die verhaal geluister het. En met tipiese vroulike insig maak sy die volgende opmerking: "Hulle is wyse manne en hulle vat geskenke vir 'n babatjie en nie een van hulle vat doeke nie!"