Wednesday 5 December 2018

Twee oudTekkies in hart en niere ...

Mnr. Grobs is die oudste oudTekkie op die
2018-personeel, terwyl mnr. Nceba die jongste
oudleerder is - hy het in 2014 matriek geskryf.
Twee oudleerders wat met hulle onderskeie talente hulle merk tydens hulle skoolloopbaan gemaak het. Mnr. Willem Grobbelaar was 'n kranige atleet, wat sy pad tot by interhoër oopgehardloop het. Mnr. Nceba Mgojo is 'n trompetspeler by uitstek, wat vir hom 'n beurs losgeblaas het om aan Pukke te studeer. Hier staan die twee by 'n foto wat in 2004 van mnr. Grobs geneem is, toe hy as bekwame tromspeler sy buiging in HTS se melodrama gemaak het.

Hy het matriek in 1974 geskryf en sy pad het in 1997 weer met HTS gekruis, toe hy as wiskunde onderwyser na sy Alma Mater teruggekeer het. Hy lê vanjaar die tuig na 21 jaar by HTS neer. As leerder en as leerkrag het hy 'n aktiewe rol by HTS gespeel. Sy bydrae as waarnemende departementshoof het nie ongesiens verby gegaan nie. En vir oulaas neem hy die groen pen as senior merker tydens die 2018 NSS-eksamen op.

Vir baie jare was mnr. Grobs 'n instelling by HTS se prysuitdeling. Met sy kenmerkende helder stem, het hy as seremoniemeester tussen die ernstige verslae, pryse vir akademie en sport, die gehoor op 'n staaltjie of twee vergas - op hierdie wyse het 'n lang aand heelwat korter gevoel.   

Van sy oudleerders sal genoeg staaltjies oor hom kan vertel en die redaksie sal hulle nog nadersleep vir kommentaar.

Intussen wens Tekkie Tonic hom en sy gesin die allerbeste toe vir die nuwe fase in hulle lewe en HTS groet hom met die skool se leuse:

SAPIENTIA AURUM QUE E PROFUNDIS