Friday 7 December 2018

Vir botter of vir wors ...

Vrydag was die laaste dag van die lang admin-week, die kersie op die koek en in dié skool se geval, die wors op die vuur.

Na 'n lang week waar personeel aan punte, skedules, rapporte en Ed lab-kaarte gewerk het en hulle botter op hulle brood verdien het, het Johann Herbst besluit dat hierdie hardwerkendes 'n worsie op die kole verdien en daarom het hy sommer op eie inisiatief ingespring en almal genooi wat wou deel in die worsprojek, om sy of haar geldjie in die hoed te gooi en dan sou hy en Karen vir die res sorg.

Van die kommentaar wat Tekkie Tonic op die stoepe gehoor het, is dat dit van die lekkerste wors is wat hulle in 'n lang tyd geëet het. Nou wonder die redaksie of die geheim van die smaak in die wors of in die braaier se braaivermoë lê ...?

Twee van die personeellede het besluit om sommer hierdie geleentheid te gebruik om te ontstres en in plaas daarvan om die gym te besoek, het hulle sommer die "Worswals" van Nico Carstens om die vuur gedemonstreer aan die entoesiastiese gehoor.

Enige een wat belangstel in danslesse vir troues, matriekafskeide en ander funksies, kan die naam en nommer van die afrigters by die sekretaresse kry.

Dankie Johann en Karen vir die inisiatief! Dankie Lizbe vir die verewiging van die gebeurtenis.